Foto’s: Karlien, Bobby se sus hou bruilof

Cara Brink, suster van Karlien en Bobby van Jaarsveld, is Saterdag getroud met Dwane van Aardt. (Foto: Marika Wilkins Wedding & Lifestyle Photography)

Cara Brink, halfsuster van die sangers Karlien en Bobby van Jaarsveld, is Saterdag in ʼn stylvolle seremonie in Pretoria met Dwane van Aardt getroud.

Cara (23) en Dwane het by die Thulani Wedding Venue aan mekaar trou beloof. Sowat 90 gaste was teenwoordig toe Cara mevrou Van Aardt geword het. Bobby, Karlien en hul gesinne het ook die geleentheid bygewoon.

“Daar was net mense teenwoordig met wie Cara werklik ʼn band het en die viering was amper soos ʼn groot reünie van familie en vriende,” vertel Ronel Brink, Cara se ma, aan Maroela Media.

“Alles was perfek – van die weer tot die atmosfeer. Dit was waarlik ʼn bruilofsviering in die ware sin van die woord.”

Cara was in ʼn wit skepping met kantmoue van Anel Botha Couture geklee. Envy Weddings and Events het al die toutjies getrek om die groot dag te beplan.

“Ons het twee maande gehad om die troue te reël, maar met ʼn span soos dié wat ons gehad het, sou ons dit binne ʼn week ook kon doen,” sê Ronel.

Sy voeg by dat dit “totaal onwerklik” is dat haar jongste kuiken nou ook die nes verlaat het en ʼn getroude vrou is. Cara is 12 jaar jonger as Karlien, Ronel se oudste dogter.

Cara se familie was ook op die troue teenwoording. Van links na regs: Haar ma, Ronel Brink, broer Bobby van Jaarsveld, Dwane, Cara, Annatjie van Jaarsveld, haar suster Karlien van Jaarsveld en Joe Breytenbach. (Foto: Marika Wilkins Wedding & Lifestyle Photography)

“My hart was seer en bly op dieselfde tyd. Die mooiste oomblik vir my was toe al sewe my kleinkinders voor Cara in die kapel ingestap het. Dit het my hart ten diepste geraak en ek het besef ek is ʼn geseënde mens met soveel kleinkinders en drie skoonkinders wat werklikwaar soos my eie is. Aan God al die eer.”

Karlien het die liedjie “Huisie in die reën”, wat oorspronklik deur die groep Spoegwolf uitgevoer word, tydens die onthaal gesing.

“Ek is opgewonde oor hierdie nuwe weg vir die opregtes van hart. Lief vir julle Van Aardts,” het Karlien op Facebook geskryf.

Volgens Ronel het Cara in trane uitgebars toe die kapel se deure oopgaan en sy vir Dwane voor die kansel sien staan.

“Die oomblik was groot en sy kon haar trane nie keer nie. En toe huil ons almal saam – van blydskap,” vertel sy.

“My grootste wens vir Cara en Dwane is dat hulle God altyd sal deel maak van hulle huwelik, want dan sal hulle enige moeilike tye kan oorkom omdat Hy saam met hulle in die huwelik teenwoordig is. Dat God waaragtig die boonste deel van die driehoek, die Hoof van hulle huis, sal wees.”

Marika Wilkins Wedding & Lifestyle Photography het die fotografie behartig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.