[Foto’s] Karlien maak geslag en naam van baba bekend

Karlien by haar ooievaarstee (Foto: Instagram)

Die Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld het die geslag en naam van haar baba bekend gemaak.

Van Jaarsveld het in ʼn roerende ope brief op sosiale media gesê sy en haar man, Joe Breytenbach, verwag ʼn dogtertjie. Dié dogtertjie is die egpaar, wat stilletjies in Maart die knoop deurgehak het, se eerste kind. Die sangeres het twee kinders, die tweeling Daniël en Eliah, uit haar vorige huwelik met Derick Hougaard.

Van Jaarsveld het vroeër vandeesweek op Instagram gespog met foto’s van haar ooievaarstee waar bekendes soos Riana Nel en Donnalee Roberts die koms van hul kleinding gevier het.

“Ons het dit lank geheim gehou, maar wil dit vandag deel dat ek en Joe toevertrou word om ʼn dogtertjie te kan grootmaak,” het sy laat hoor. “Ons stap nog elke dag in afwagting en vertroue in God tot haar geboorte, en ook so daarna. Ons kan nie ons dankbaarheid beskryf dat Eliah en Daniël nog ʼn sussie (ná Evah 15/01/15) bykry nie. Hulle is so opgewonde en het reeds vir baie mense van haar vertel.” Van Jaarsveld was 19 weke swanger toe sy haar babadogtertjie in Januarie 2015 verloor het.

Die egpaar het besluit om hul pienkvoet Elah te noem. “Ons het ʼn hele paar maande al haar naam oorweeg en God in sy getrouheid het dit oor en oor kom bevestig dat sy Elah (uitspraak Êlla) genoem sal wees.

Karlien saam met Donnalee Roberts (Foto: Instagram)

“Dit [Elah] was die plek waar Saul en die Israeliete weggekruip het onder die Terebintebome in Elah, en dan weer Dawid uiteindelik vir Goliat verslaan het. Dis ʼn skuilplek. Mag jy jou reus verslaan en onthou wie jy was voor die grondlegging van die wêreld, en met Christus beklee word in sy geregtigheid.”

Van Jaarsveld het die afgelope naweek op Instagram gesê sy moet “met diskresie kies wat om [op sosiale media] te deel” omdat “mense te maklik praat”.

“Dit maak dit moeilik om goed te deel. Jammer vir dié wat opreg is wat dan voel ek weerhou julle daarvan om saam [met] my in my lag te kan deel, want dis so lekker om in mekaar se geluk en leed te kan deel. Ek wil saam [met] jou kan lag en ek wil saam [met] jou kan huil. Die wêreld se oordeel maak dit net moeiliker om te deel. Dankie vir die bly-wees saam [met] my.”

Die sangeres het dié gedig van klein Elah geskryf:

Waarheen sal die wind en wolke gaan
Sonder die stem van God
Wie sal op die uithoek van die aarde staan
En roep keer terug vanwaar ek jou geplant het jy soek soek en vind niks
Ek roep roep in jou binneste in
Hoor My vandag as ek jou naam noem
Elah, my terebint, geregtigheid sal die son laat skyn en die takke bloei
Staan jy op na waar Ek roep jou tuiste in die Eden plek, jy hoor, jy stap, jy vind jou weg.
Let op hierdie een van My sy het haar skuilplek, vanuit die ooste verkry geroep deur die Ware Geluid, Genoem terebinte van geregtigheid.
Liefde
Mamma
Jes 61:3 [sic]

Karlien saam met Riana Nel (Foto: Instagram)

Karlien by haar ooievaarstee (Foto: Instagram)

Annatjie, Bobby van Jaarsveld se vrou, Karlien, en ‘n vriendin (Foto: Instagram)

Karlien en ‘n vriendin (Foto: Instagram)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.