Foto’s: Mathys Roets trou met sy Jané

Mathys en Jané (Foto: Lizelle Lotter Photography)

Mathys Roets en sy vriendin van die afgelope nege jaar, Jané von Litsenborgh, het die afgelope naweek tussen die berge in Robertson ewige trou aan mekaar beloof.

Roets vertel sedert hy sowat ʼn jaar gelede Jané se verloofring gekoop het, het hy baie na die dag uitgesien. Die paartjie het in April 2018 verloof geraak.

“Die dag toe ek die verloofring in my hand vasgehou het, het ek geweet dit is die regte ding om te doen. Ek het geweet waarheen ons op pad was. Mens is mos maar bang daarvoor, maar op daardie oomblik was ek net opgewonde, en nie meer bang nie, want ek weet dit is die regte pad,” het hy aan Maroela Media gesê.

Die Roets-troue het op die Rietvallei-wynlandgoed in Robertson plaasgevind en oor drie dae gestrek.

“Die troue was tussen die berge in Robertson, so al ons pelle moes moeite doen om daar uit te kom, niemand was net in die omgewing nie. En ʼn troue is te kort, jy mis jou vriende en mense wat moeite gedoen het om daar te wees, so ons het sommer ʼn drie dae lange partytjie gehou. Dit was vir ons so lekker om die tyd saam met almal te deel,” het Roets gesê.

Die vieringe het Vrydag laatmiddag afgeskop met ʼn wynproe tydens sonsondergang, die troue het Saterdag gevolg waarna die naweek met ʼn bootrit by Viljoensdrift afgesluit is.

Jané stap by die paadjie af (Foto: Lizelle Lotter Photography)

Oor die troue sélf vertel Roets dat hy vir altyd sal onthou hoe sy bruid gelyk het toe sy by die paadjie afgestap het na hom toe.

“Dit was net fantasties. Dit was een van daardie oomblikke waarin ʼn storie voltooi word,” het hy gesê. “Die oomblik dat ek haar die eerste keer gesien het, het ek net vir haar gesig gekyk. Sy het so mooi gelyk en so mooi geglimlag. Ek het nie eens die rok raakgesien nie, ek moes later daarna kyk.

“ʼn Ou verwag nie daai tipe emosie nie – dit sal my nog lank bybly. Ek moes agterna weer na die foto’s gaan kyk om seker te maak dit is die regte vrou wat ek gesien het,” het Roets geskerts.

Jané het by die paadjie afgestap op Elvis Presley se treffer Can’t help falling in love wat deur Matthys Maree verwerk is om dit ʼn troumarstempo te gee.

Roets se twee seuns, Liam en Yuan, het die rolle van sy strooijonkers ingeneem. Roets verklap dat hulle drie amper laat was vir die troue.

“Ons het vooraf so lekker gekuier dat ek ʼn uur voor die troue eers besef het ek moet gou aantrek. Daar was nie tyd vir die seuns om aan te trek nie, so hulle het hul klere saam na die venue toe geneem en daar gou aangetrek terwyl die gaste aangekom het,” het hy gesê.

Liam en Yuan, Mathys se seuns (Foto: Lizelle Lotter Photography)

“Dit was seker my tweede lekkerste oomblik van die dag toe ek my twee kleintjies – soos ek hulle steeds sien – sien aankom in hul netjiese pakke. En dit is lekker om te sien dat hulle darem trots op hul pa is, al is hy nou ʼn bietjie korter as hulle.”

Roets het vertel dat hy en sy bruid vir die gaste ʼn verrassing gehad het met ʼn sing-en-dansitem.

“Dit was amper soos ʼn flashmob. Ek het ʼn vreeslike stadige en droewige weergawe van ʼn liedjie begin sing, voordat Kevin [Leo] en Danie [Niehaus] my in die rede val om te sê dis ʼn partytjie hierdie en ons moet bietjie gas gee. Jané, haar suster en haar vriendin het toe begin dans op ons sang.

“Toe die mense weer sien, is die drie girls aan die dans en ons drie manne sing. Ons wou maar net die gaste bietjie verras,” het Roets gesê.

Mathys en Jané (Foto: Lizelle Lotter Photography)

Roets het gesê die hele troue het ʼn onderliggende tema van drome gehad. “In my geval, ná my ongeluk, het mens gewonder of jy nog kán droom. En ons wou net wys dat mense nooit moet ophou droom nie; ons het nie, en ons drome het waar geword. Ons drome kan voortleef en ons kan nou selfs nuwe drome begin droom.”

Meneer en mevrou Roets is tans op wittebrood waar hulle ʼn langpadrit aanpak. Hulle gaan onder meer Stormsriviermond en Port St. Johns besoek en bly sowat twee dae op elke plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sanet ·

SJOEEEE…! ?? Skoon trane in my oë, BAIE SEËN en voorspoed uit Sy Troonkamer uit,vir julle twee..??

Boerboel ·

Baie geluk, mag julle bewaar word. Mathys is n’ baie goeie sanger, sy stem amper soos Neil Diamond. Ek hou baie van hom, hy moes ook al baie verduur met sy ongeluk en sit nou in n’ rolstoel maar het sy kop opgetel en gaan net aan. Seuns is nou mooi groot en trek na die Pa.

Foxi ·

So, so pragtig! Seënwense in oorvloed vir julle twee en kinders.

Essie ·

Sjoe, maar julle is pragtig! En daai twee seuns!!!!!! ?♥️

Elsabie ·

Ag maar jou vrou is pragtig! Julle het awesome gelyk!! Baie geluk en baie vreugdevolle jare vorentoe!

Nicky ·

Pragtig! Pragtig. Matthys is so inspirasie vir ons almal. Na sy ongeluk het hy opgestaan en leef hy voluit…geweldige positiewe invloed op soveel verlamdes. Dankie dat jul die spesiale huwelikdag met lesers gedeel het en baie geluk!

KarinB ·

Veels geluk aan die bruidspaar.
Dankie MM vir die pragtige foto’s en mooi berig oor een van ons groot sangers, sy lieflike vrou en aantreklike seuns. Seënwense vir julle.

Amanda ·

Baie mooi en baie geluk.
Wat van n diep afrikaanse cd.
Het al jou cd’s.
Alles wat mooi is vorentoe.???

Marietjie ·

Baie geluk. So bly vir julle altwee. Hoop julle is baie gelukkig.

Mavis ·

Baie geluk ek wens jul 2tjies net die beste toe pragtige 2 manne kan nie glo hul is al so groot nie

Petro de Kock ·

Opregte Liefde oorwin alles Julle is n voorbeeld vir so baie mense . Janè Jy was n pragtige bruid Bly altyd so vol lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.