Foto’s: Skattige prins George word ses

Prins George (Foto: Instagram via Kensington Royal)

Die eerste gebore kleinkind van die ontslape prinses Diana, prins George, vier vandag sy verjaarsdag en sy koninklike ouers het nuwe foto’s van hul skattige sesjarige spruit vrygestel.

Prins William en sy vrou, Catherine, se amptelike Instagram-blad het drie nuwe foto’s van die klein prinsie gedeel om sy sesde verjaarsdag te vier. Die foto’s is deur Catherine self geneem.

In twee van die foto’s het George ʼn wit hemp aan met Engeland se nasionale sokkerspan se embleem op. Dié foto’s is in die gesin se tuin by Kensington-paleis geneem. Die ander foto, waar George ʼn groen hemp aanhet, is tydens ʼn onlangse familievakansie geneem.

Prins George Alexander Louis van Cambridge is op 22 Julie 2013 in St Mary’s-hospitaal in Londen gebore. Hy het een suster, Charlotte (4), en ʼn broer, Louis (1).

George is derde in die ry as opvolger tot die troon en sal na verwagting eers koning raak ná sy oupa, prins Charles, én sy pa, prins William.

George het reeds een jaar by die Thomas’s Battersea- privaat skool voltooi en begin in September met sy tweede skooljaar. Prinses Charlotte is ook in Januarie verlede jaar vir die eerste keer kleuterskool toe by Willcocks Nursery School.

Onlangs was die drie jong koninklikes en hul neef, Archie, in die kollig toe dit aan die lig gekom het dat koningin Elizabeth die wettige voog van prins George, prinses Charlotte, prins Louis en Archie sal word, sou daar iets met hul ouers gebeur.

Prins Harry en sy vrou, Meghan, se skattige babaseuntjie, Archie Harrison Mountbatten-Windsor. (Foto: Chris Allerton via Instagram)

Volgens Express is dié wet in 1717 deur koning George I ingestel omdat hy en sy seun groot onenigheid gehad het oor hoe hy sy kinders grootmaak. Koning George I het toe sy kleinkinders se wettige voog geword.

Prins Harry en Meghan se eerste kind, Archie Harrison, is die enigste kleinkind van prins Charles wat nie ʼn koninklike titel het nie. Terwyl sy niggie en nefies se titels “prins” en “prinses” is, sal Archie eerder “meester” genoem word, berig Express. Archie is ook die enigste een tussen die koninklike kinders wat ’n van (Mountbatten-Windsor) as deel van sy titel het.

Indien prins Harry en Meghan die tradisionele roete gevolg het met die benoeming van hul eersteling, sou Archie as die graaf van Dumbarton bekendgestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Oumie ·

Julle berig sê Hy is op 22 Junie 2013 gebore? Is dit dan nie vandag sy verjaarsdag nie?

Elizabeth ·

ja hy is my gunsteling ook. . Hy gaan eendag net so aantreklik en vriendelik wees as sy ouers en ook soos sy ouma was.

VanAfrika ·

Hierdie is n skattige seuntjie, sy siel skyn deur daardie ogies en sy kleinboet volg kort op sy hake.

Geluk met jou verjaardag Prins George, definitief my gunsteling.

VanAfrika ·

Hierdie is definitief die oulikste Royal, sy sieletjie skyn deur daardie ogies, sy kleinboet volg kort op sy hakke met sy oulikgeit.

Happy Birthday Prince George, jy is definitief my gunstelik.

DS ·

Kan sommer op sy gesiggie sien dat hy is ‘n gelukkige kind wat baie liefde kry.

Elizabeth ·

ja hy is my gunsteling ook. . Hy gaan eendag net so aantreklik en vriendelik wees as sy ouers en ook soos sy ouma was.

Stan ·

Hartseer dat Diana nie daar is om die drie te geniet nie – en hulle vir haar.

Wekusnooi ·

Veels geluk Prins George!
Jy lyk tog te skattig en na ‘n gewone en gelukkige seuntjie!
William en Kate verrig ‘n goeie taak!

Net so jammer Prinses Di kan nie nou haar 4 kleinkinders geniet nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.