Die Kensington-paleis het Maandag gesê Prins Harry en Meghan Markle “sien baie uit” na hul groot dag in Mei vanjaar en wou daarom ʼn paar bykomende besonderhede oor die verloop van hul huweliksdag met die publiek deel.
Prins Harry (33) en Markle (36), veral bekend vir haar rol in die televisiedrama Suits, het einde November verlede jaar hul verlowing amptelik bekend gemaak en gaan op 19 Mei in Windsor, wes van Londen, trou.
Volgens inligting van die Kensington-paleis sal die seremonie vir hul troue om 12:00 by die St. George-kapel begin.
Die seremonie sal deur die dekaan van Windsor, hoof van die St. George-kapel, gelei word en die aartsbiskop van Canterbury sal waarneem wanneer die koninklike egpaar hul geloftes voorlees.
Harry en Markle – teen dan al ʼn egpaar – sal om 13:00 met ʼn koets van die St. George-kapel deur Windsor ry en dan weer na die Windsor-kasteel terugkeer deur die Long Walk-roete.
“Die egpaar hoop hierdie kort rit sal ʼn geleentheid wees vir meer mense om buite Windsor saam te kom en die atmosfeer van hierdie spesiale dag saam met hulle te geniet,” lui ʼn inskrywing van die Kensington-paleis.
Ná die seremonie en die koetsrit sal die egpaar hul onthaal by die St. George Hall hou waar hulle hul gaste van die seremonie sal verwelkom.
“Die prins van Wallis sal later daardie aand ʼn intieme skemeronthaal hou vir die egpaar self asook hul hegte vriende en familie.”
Maroela Media het vroeër berig Prins Harry en Markle se troue gaan die Britse ekonomie glo ʼn hupstoot van sowat £500 miljoen gee. Volgens ʼn skatting van David Haigh, uitvoerende hoof van die Britse nasionale statistiekekantoor, sal £200 miljoen hiervan deur toeristeinkomste soos onder meer hotelle gegenereer word. Haigh sê toeriste sal meer as £150 miljoen aan partytjies spandeer voor en ná die koninklike troue en sowat £50 miljoen aan memorabilia soos T-hemde.
Lees meer oor die koninklike troue op Maroela Media.
Die dame is niks meer as ‘n fortuinsoeker nie.
Ag nee man gun ou Harry nou sy vroutjie