[Foto’s] Só lyk Demi-Leigh se Mej. Heelal-kostuums

Demi-Leigh se gala-uitrusting (Foto: Facebook)

Demi-Leigh Nel-Peters, die huidige Mej. Suid-Afrika, se uitrustings vir die Mej. Heelal-kompetisie is Donderdag onthul.

Nel-Peters gaan Suid-Afrika in November vanjaar in dié kompetisie verteenwoordig.

Die skoonheid se kostuums is Donderdag tydens ʼn afskeidspartytjie, voor sy na Amerika vertrek, by Time Square in Menlyn in Pretoria onthul.

“Ek het reeds met voorbereidings begin toe ek as Mej. SA gekroon is. Ek verstaan die verantwoordelikheid verbonde daaraan om as Mej. Heelal gekroon te word, nes die verantwoordelikheid wat ek as Mej. SA het. Dit het ʼn invloed op miljoene lewens,” het sy tydens die bekendmaking laat hoor.

Haar nasionale kostuum, wat ontwerp is deur Malikah Hajee en Lloyd Kandlin van The Costume Department, is geïnspireer deur Suid-Afrika se flora en fauna met ʼn spesifieke fokus op die protea.

Haar aandrok is ontwerp deur Anel Botha met die doel om “gesofistikeerdheid en glans” uit te beeld.

Demi-Leigh se tradisionele uitrusting (Foto: Facebook)

“Demi-Leigh se Mej. Heelal-uitrusting weerspieël haar skoonheid op ʼn miljoen verskillende maniere. Dit beeld ook haar innerlike krag uit en wys haar mooi liggaamsbou,” het Botha gesê.

Sy het die nuus oor haar deelname aan dié gesogte kompetisie in Augustus vanjaar bekend gemaak. “ʼn Jaar gelede het ek as ʼn meisie van ʼn klein dorpie met groot drome vir Mej. Suid-Afrika ingeskryf. Binnekort sal ek [tydens Mej. Heelal] sê: ‘Demi-Leigh Nel-Peters, 22, Suid-Afrika’.”

Sosialemediagebruikers blyk reeds meer positief te wees oor dié uitrusting as dié van Adé van Heerden (25), wat as eerste prinses in die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie aangewys is en Suid-Afrika by die Mej. Wêreld-kompetisie gaan verteenwoordig. Talle sosialemediagebruikers het Van Heerden se uitrusting as ʼn “ramp” beskryf.

“Die beste nasionale uitrusting ooit,” het Pieter Nel op Facebook laat hoor.

“Hierdie uitrusting is asemrowend. Baie geluk aan die ontwerpers, julle ken julle land beter as enigiemand anders,” het Glowy Segwapa geskryf.

Die Mej. Heelal-kompetisie word op 26 November in Las Vegas in die VSA gehou. Nel-Peters, van Sedgefield in die Wes-Kaap, is die 59ste Mej. Suid-Afrika. Sy is in Maart vanjaar by Sun City in Noordwes gekroon.

Vir meer inligting, besoek die Mej. SA Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.