Foto’s: Só vra Malcolm Marx die jawoord

Malcolm Marx en Kirsten Grant. Foto: Armadillo Media.

Op die rugbyveld is Malcolm Marx ’n vuurvreter. Die Springbok-haker is ’n Wêreldbeker-wenner en hy was al in ’n paar Superrugby-eindstryde saam met die Lions in aksie. Boonop word hy deur talle as die beste speler in sy posisie in wêreldrugby beskou.

Soms is daar egter geleenthede in die lewe waarvoor jy jou hardebaard-geit maar noodgedwonge moet afskeer en vir jou beste romantiese skoene in jou toksak moet rondgrawe; soos wanneer jy verlowingsplanne het.

Die 26-jarige Marx het juis onlangs sy planne perfek uitgevoer toe hy vir Kirsten Grant by die Kilima- private natuurreservaat in Tzaneen gevra het om te trou.

Foto: Armadillo Media.

Oukei, daar was steeds ’n stoppelbaard op die ken; maar om die groot vraag presies tien jaar nadat jy haar die eerste keer gevra het om op skool te kys én so tussendeur ’n helikopterrit, berge en asemrowende natuurtonele te vra, is darem deksels romanties.

Armadillo Media se Kyle en Nicolene Cresswell was daar om die gebeure op kamera vas te vang. Die twee het al onder meer Hykie Berg se troue afgeneem, maar selfs die gesoute fotospan was beïndruk met Marx se vindingrykheid.

“Wat vir ons uitgestaan het van die hele fotosessie is ongetwyfeld die moeite wat hy gedoen het. Dat ’n mens nog steeds ná tien jaar saam hul liefde vir mekaar kan sien,” het Cresswell gesê.

Volgens haar het Marx gesorg dat hy en Kirsten eers per helikopter na ’n romantiese piekniekplek in die berge geneem is.

Die fotograwe en van die paartjie se familie en vriende het mekaar kort daarna by die plaaslike vliegveld ontmoet en hulle na die twee verliefdes gehaas: Die groot oomblik was immers om die draai!

“Ek en Kyle het by die helikopter se oop deur gesit om die op-een-knie-oomblik vas te vang. Kirsten se ouma – sy is seker so 80 jaar oud – het daarop aangedring om by ons te sit. Sy het gesê dat dit haar eerste en laaste keer in ’n helikopter sal wees; dus mag sy kanse vat!” het Nicolene laggend vertel.

Nodeloos was Kirsten nog meer verras met al die familielede daar en die vonkelwynglasies is vrolik geklink.

Foto: Armadillo Media.

“Ons het ’n paar familiefoto’s geneem en daarna was die paartjie gereed vir hul amptelike verlowingsfoto’s. Die agtergrond het jou asem weggeslaan – net berge rondom jou. Dit was boonop  bewolk en dit het vir ongelooflike foto’s gesorg. Toe die son vir die laaste 15 minute uitkom, was ons omtrent in die hemel.”

Natuurlik was Kirsten baie opgewonde oor die gebeure – sy het gereeld die trane weggevee en haar bes probeer om nie haar grimering te smeer nie.

“Ek weet glad nie hoe Malcolm dit so lank geheim kon hou nie,  want ʼn mens kan maklik sien wanneer hy iets wegsteek. Hy het my werklik verras en die feit dat my familie en vriende die oomblik saam met ons gedeel het, het dit net soveel meer spesiaal gemaak,” het Kirsten gesê.

Die paartjie het nog nie ’n troudatum vasgestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois ·

Voor BLM buig jy nie kortstondig ‘n knie om n punt te probeer maak nie, maar die vrou saam met wie jy die res van jou lewe gaan spandeer…. DIT is ‘n ander, waardige rede…. Geluk en seën vir julle huwelik toegebid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.