Foto’s: Spoggeleentheid toe Mej. SA gekroon is

Tamaryn Green het met die gesogte Mej. Suid-Afrika-kroon huis toe gegaan. (Foto: Verskaf)

Tamaryn Green het met die gesogte Mej. Suid-Afrika-kroon huis toe gegaan. (Foto: Verskaf)

Tamaryn Green, ʼn stralende 23-jarige mediese student van die Paarl in die Wes-Kaap, is Sondagaand by ʼn spoggeleentheid in Pretoria as die 60ste amptelike Mej. SA gekroon.

Green, wat uiteindelik teen Thulisa Keyi (26) om die amptelike Mej. SA-titel meegeding het, sal ook Suid-Afrika verteenwoordig in die Mej. Heelal-kompetisie. Demi-Leigh Nel-Peters van Sedgefield is in 2017 met dié gesogte titel vereer.

Waar daar voorheen drie finaliste gekies is van wie een as wenner en twee as eerste en tweede prinsesse aangewys is, is daar vanjaar slegs twee finaliste gekies. Keyi, ʼn BCom-student van die Oos-Kaap, sal as opvolger dien en ook Suid-Afrika verteenwoordig in die Mej. Wêreld-kompetisie. Rolene Strauss is in 2014 as Mej. Wêreld gekroon.

Green is met ʼn pryspakket ter waarde van R3 miljoen huis toe terwyl Keyi pryse ter waarde van R600 000 gewen het.

Die Mej. SA-kompetisie het vanjaar sy 60ste bestaansjaar gevier en nagenoeg 40 voormalige titelhouers van Mej. SA het die geleentheid bygewoon.

Skoonheidskoninginne soos Penny Rey Coelen, Mej. Wêreld 1958; Anneline Kriel Bacon, Mej. Wêreld 1974; Rolene Strauss, Mej. Wêreld 2014; Margaret Gardiner, Mej. Heelal 1978; en Demi-Leigh Nel-Peters, die huidige Mej. Heelal, het almal die geleentheid bygewoon.

Van links na regs: Penny Rey Coelen, Margaret Gardiner, Demi-Leigh Nel-Peters, Rolene Strauss en Anneline Kriel Bacon. (Foto: Verskaf)

Van links na regs: Penny Rey Coelen, Margaret Gardiner, Demi-Leigh Nel-Peters, Rolene Strauss en Anneline Kriel Bacon. (Foto: Verskaf)

Basetsana Makgalamele Kumalo (1994), Kerishnie Naiker (1997) en Bokang Montjane Tshabalala (2010) het die skare gaande gehad toe hulle die verhoog betree het.

Strauss het ook vanjaar as beoordelaar opgetree saam met ʼn paneel van bekendes in die vermaakbedryf.

Anele Mdoda, geselsprogramaanbieder en radio-omroeper, Janez Vermeiren, aanbieder van Top Billing-faam, Khanyi Dhlomo, sakevrou en mediafoendi, Khaya Dlanga, bemarkingspersoonlikheid; Michelle van Breda, bekroonde tydskrifredaktrise, en Siba Mtongana, bekende televisiepersoonlikheid en -sjef, het saam met Strauss in die beoordelaarspaneel gedien.

ʼn Opgewonde Green het oorstelp gesê sy is vasberade om ʼn verskil te maak gedurende haar jaar as Mej. SA.

“Ek belowe om op die nalatenskap van voormalige Mej. SA-titelhouers voort te bou en om my land met elegansie, styl, skoonheid en onwrikbare toewyding te dien,” het Green in haar aanvaardingstoespraak gesê.

“Mej. SA is soveel meer as net ʼn kompetisie. Dit is ʼn roeping, ʼn geleentheid om terug te gee aan die land wat so ryklik aan my voorsien het tot dusver. As Mej. SA sal ek ʼn sterk posisie beklee om by te dra tot die heropbou van ʼn beter Suid-Afrika. Ek is nog altyd passievol daaroor om ʼn positiewe verskil in die lewe van ander te maak.

“Tydens my grootwordjare is ek aan twee baie verskillende wêrelde blootgestel: een van voorreg en een van minderbevoorregting. Ek wil help om die twee wêrelde byeen te bring. Ek glo dit kan gedoen word deur gelyke onderrig vir almal te verskaf. Dade praat harder as woorde. Ek wil ʼn stem wees vir diegene wat nie gehoor kan word nie, ʼn dienaar en rolmodel vir Suid-Afrikaners en vir die mense van die wêreld.”

Thulisa Keyi en Tamaryn Green. (Foto: Verskaf)

Gareth Flusk van Sun International het namens die Mej. SA-organisasie gesê Green “sluit haar aan by ʼn groep uitsonderlike vroue”. “Baie van die vroue is huishoudelike name sedert hulle die kompetisie gewen het en gaan voort om ʼn belangrike rol in die Suid-Afrikaanse samelewing te speel.”

Suzette van der Merwe, wat in 1990 die kroon as Mej. SA gedra het, het namens Cell C gesê die kompetisie was vanjaar straf. “Dit was buitengewoon straf met 12 baie sterk deelnemers wat om die kroon meegeding het. Ek glo Tamaryn sal ʼn fantastiese ambassadeur wees en namens Cell C wil ek haar alle sukses toewens. Ons wil graag ook die opvolger, Thulisa, gelukwens.”

Mej. SA word deur Cell C in samewerking met Sun International aangebied. Die geleentheid het vanjaar by die Sun Arena Times Square in Pretoria plaasgevind. Bonang Matheba het as seremoniemeester vir die geleentheid opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Afrikaanse Knaap ·

Mooi kind. Baie geluk aan haar en haar familie. Ek hoop sy maak ons as Suid-Afrikaners trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.