Foto’s: Sterre skitter by modieuse Met-gala

George en Amal Clooney. (Foto: Invision/AP)

George en Amal Clooney. (Foto: Invision/AP)

Hollywood se beroemdste sterre kom elke jaar op die eerste Maandag in Meimaand tydens ʼn hoogs modieuse en glansryke geleentheid in New York byeen om die Metropolitan Museum of Art’s Costume Institute se lente-uitstalling te vier, en vanjaar was geen uitsondering nie.

Vanjaar se tema was “Heavenly Bodies: Fashion and the Catholic Imagination”, en die elite van die internasionale vermaakbedryf het behoorlik uitgehang vir dié fondsinsamelingsgeleentheid.

Die Jamaikaanse sangeres Rihanna se uitrusting deur Maison Margiela vir John Galliano het gedrup van die pêrels en kristalle. Sy het ʼn versierde kleed en ʼn kopstuk met kralewerk saam met haar ontwerpersminirok gedra.

Die Amerikaanse supermodel Gigi Hadid het uitgestaan in ʼn geborduurde eenskouer Versace-skepping met kralewerk, wat lyk of dit deur loodglasvensters inspireer is. Haar suster, die supermodel Bella Hadid, het ʼn gotiese uitrusting gedra.

Die aktrise en sangeres Zendaya van The Greatest Showman-faam is deur Joan of Arc inspireer en het soos ʼn krygerprinses in ʼn pantseragtige uitrusting met delikate kettingmateriaal gelyk.

Katy Perry, wat in Julie vir die eerste keer in Suid-Afrika optree, het in engelvlerke van ongeveer twee meter hoog, metaalstewels en ʼn Versace-rok op die glanstapyt vir die flitsende kamera’s poseer.

Die kletsrymers Nicki Minaj en Cardi B het ook die geleentheid bygewoon. Minaj het ʼn rooi Oscar de la Renta-skepping vir die gala gekies terwyl Cardi B met haar swanger magie gespog het in ʼn spierwit rok en kopstuk deur Jeremy Scott.

Blake Lively. (Foto: Instagram)

Blake Lively. (Foto: Instagram)

Blake Lively, aktrise en vrou van die Kanadese akteur Ryan Reynolds, het so asemrowend gelyk dat sy fotograwe moes vra om te kalmeer toe sy in ʼn statige en geborduurde burgundy rok op die glanstapyt verskyn het.

Jennifer Lopez, Chadwick Boseman van Black Panther-faam en Kim Kardashian West, wat die geleentheid sonder haar man, Kanye, bygewoon het, het almal hul beste modevoetjies voorgesit. Lopez was geklee in ʼn kleurvolle Balmain-nommer, Boseman in ʼn ivoorkleurige skouermantel en Kardashian West het in ʼn goue Versace-rok op die glanstapyt geskitter.

Ander lede van die Kardashian-familie was ook daar. Kylie Jenner, wat op 1 Februarie lewe geskenk het aan haar en die kletsrymer Travis Scott se dogtertjie, Stormi Webster, het in ʼn lang, moulose aandrok die geleentheid bygewoon. Jenner se suster Kendall het ʼn wit broekpak gedra.

Die immergewilde popster Madonna het opgetof in ʼn pikswart Jean Paul Gaultier-rok en Diane Kruger het koppe laat draai in ʼn blou Prabal Gurung-skepping.

Die Sex and the City-aktrise Sarah Jessica Parker het ʼn skepping en kopstuk deur Dolce & Gabbana gekies, Kate Bosworth het geskitter in ʼn rok deur Oscar de la Renta en Ariana Grande het ʼn Vera Wang-rok gedra.

Amal Clooney, Anna Wintour en Donatella Versace het ook die geleentheid bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Maroela, hierdie Tema van die gala maak ‘n bespotting van die Christelike geloof, al is dit die Katolieke en nie Prostestante tema. Weet nie waarom julle die fotos plaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.