Foto’s: ‘Three Billboards’, ‘Big Little Lies’ maak skoonskip

nicole kidman

Nicole Kidman. (Foto: Xinhua/Li Ying)

Die keur van Hollywood se sterre het Sondag weer in Los Angeles bymekaargekom vir die 24ste aflewering van die Screen Actors Guild (SAG)-toekennings.

By dié geleentheid was kleurvolle uitrustings weer aan die orde van die dag. Dit kom twee weke nadat bekendes swart gedra het ter ondersteuning van die #Me Too-beweging by die Golden Globe-toekennings.

Kristen Bell, onder meer bekend as die stem van Anna in die animasieprent Frozen, was die gasvrou by die geleentheid.

Die fliek Three Billboards Outside Ebbing, Missouri en die dramareekse Big Little Lies en This Is Us het skoonskip gemaak tydens die toekenningsgeleentheid.

William H. Macy het die toekenning vir beste akteur in ʼn komediereeks gewen vir sy rol as Frank Gallagher in Shameless.

Macy is saam met die akteur Aziz Ansari in dié kategorie benoem. Ansari, wat met ʼn Golden Globe vereer is vir sy rol in die Netflix-komediereeks Master of None, is onlangs aangekla van seksuele wangedrag en het nie die geleentheid bygewoon nie. Die gehoor het ook nie hande geklap toe Ansari se naam genoem is nie.

James Franco wat in die kategorie vir beste akteur in ʼn hoofrol benoem is, het die geleentheid bygewoon, maar is nie as wenner aangewys nie. Franco is ná afloop van die Golden Globe-toekennings twee weke gelede skerp gekritiseer nadat hy met ʼn balkie op sy lapel, wat die Time’s Up-veldtog ondersteun, sy beeldjie vir sy rol in The Disaster Artist ontvang het, terwyl hy ook van seksuele wangedrag beskuldig is.

Gary Oldman het die SAG-toekenning ontvang vir beste akteur in ʼn hoofrol vir sy rol as Winston Churchill in The Darkest Hour.

Allison Janney is vereer as beste vrouebyspeler vir haar rol as die omstrede ysskaatslegende Tonya Harding se ma in die biografiese fliek I, Tonya. Sy het ook ʼn Golden Globe vir dié vertolking ontvang.

Nicole Kidman en Alexander Skarsgard het onderskeidelik met die beeldjies vir beste aktrise en akteur in ʼn televisiefliek of minireeks vir Big Little Lies weggestap. “Ek is vandag so dankbaar dat ons loopbane ná 40 jaar nog kan voortgaan,” het Kidman in haar toespraak gesê. “Ons is kragtig, magtig en lewensvatbaar. Ek smeek die bedryf om agter ons te bly staan, want ons stories word uiteindelik vertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

mc ·

Big Little Lies is ‘n uitstekende uitstekende reeks, daar is te veel vrouens wat stil stil deur dieselfde manipulering en emosionele mishandeling gaan en vir die wereld ‘n beeld van ‘n perfekte gesin en huwelikslewe voorgee. In die proses doen jy niks anders as om vir jouself te lieg nie. Jy pleeg amper ‘n groter misdaad teenoor jouself as wat jou mishandelaar teenoor jou pleeg. Vrouens moet beslis emosioneel sterker word.

Rupert Ashford ·

En wat van die mans wat ook maar ‘n front voorhou? Of bestaan daar nie sulkes nie?

Paine ·

@Rupert, sy praat hier oor Big Little Lies, wat uitstekend was, dié gaan nie oor die mans wat moet front hou nie, almal weet daar is hordes, dié gaan spesifiek oor die vrouens. Moet daar altyd iemand wees wat “en die mans?” orals moet gaan indruk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.