Stephan van Huyssteen, beter bekend onder sy aanhangers as Stephantasties, en die blondekop-sangeres Franzel de Wet, is Saterdag getroud.
Stephantasties, wat onlangs sy debuutenkelsnit “Dis Verkeerd” vrygestel het en De Wet, wat deel vorm van die sanggroep MWAH!, het by Oude Hout Mountain Lodge in Pretoria trou aan mekaar beloof.
Die troufoto’s is Dinsdag eksklusief deur die bekende aanlyn tydskrif Troukoors gepubliseer. Die pasgetroudes het ook ʼn paar interessante feite oor die groot dag uitgelap.
“Voor die onthaal was daar ’n Soft Serve-roomysmasjien, want Franzel het ’n groot liefde vir roomys en ons wou dit insluit,” het die paartjie aan Troukoors vertel. “Die kos was ook baie informeel. Die voorgereg was nachos en varsgebakte brood met smere, en die hoofgereg was hamburgers en skyfies.”
De Wet het in Augustus verlede jaar op Instagram bevestig dat sy en Stephantasties verloof is. Hy het tydens ʼn uitstappie na die Pretoriase dieretuin die ring aan haar vinger gesteek, het die paartjie aan Troukoors vertel.
Die paartjie is met wittebrood in Bali, Indonesië.
Gaan na Troukoors se webwerf vir meer eksklusiewe foto’s deur Photo Elements.
So bly vir julle. baie geluk