Foto’s: Uitspattige mode by vanjaar se Met-gala

Lady Gaga in haar eerste rok (Foto: Evan Agostini/Invision/AP)

Diegene wat die modewêreld dophou, sal weet hulle moet die eerste Maandag van Meimaand reeds vroegtydig uitboek vir die grootste modegeleentheid van die jaar. Hollywood se beroemdste sterre kom jaarliks op dié dag by die Metropolitan Museum of Art’s Costume Institute in New York bymekaar om hul lente-uitstalling te vier.

Dié okkasie word beskou as die grootste modegeleentheid van die jaar en vanjaar was geen uitsondering nie. Die tema was “Camp: Notes on Fashion”.

Die tema is geïnspireer deur Susan Sontag se 1964-opstel genaamd “Notes on ‘Camp’”. Die tema kan losweg beskryf word as mode in oormaat. “Camp” plaas mode in aanhalingstekens, dit is nie ʼn vrou nie, maar ʼn “vrou”, dit is nie ʼn lamp nie, maar ʼn “lamp”. “Camp” is veronderstel om buitensporig, luuks en buitengewoon te wees, byvoorbeeld ʼn rok wat uit drie miljoen vere gemaak is.

Gigi Hadid (Foto: Charles Sykes/Invision/AP)

Die Amerikaanse modetydskrif Vogue het vir Gigi Hadid, Lupita Nyong’o, Nicky Minaj en Celine Dion op die lys van besgekledes geplaas.

Die model Gigi Hadid het van kop tot tone in ʼn silwer Michael Kors-katpak geskitter. ʼn Bypassende kopstuk en mantel het die uitrusting voltooi en selfs haar wimpers het by die uitrusting gepas.

Die kletsrymer Cardi B het opgedaag in ʼn rooi Thom Browne-rok wat omtrent al die trappe van die museum vol gelê het. Daar was veredetail om die kant van die rok se sleep en ook op haar skouers. Sy het ook ʼn bypassende rooi kopstuk gedra.

Die aktrise Lupita Nyong’o het uitgestaan in ʼn kleurvolle Versace-rok en Bulgari-juwele. Die rok het kleurvolle oorgroot skouerdetail gehad, met ʼn bypassende handwaaier as bykomstigheid. Nyong’o se grimering het ook by die kleurvolle skouerdetail gepas.

Kim Kardashian West (Foto: Evan Agostini/Invision/AP)

Die ma-en-dogterkombinasie Kris Jenner, Kim Kardashian West, Kendall Jenner en Kylie Jenner, was ook by dié geleentheid te sien. Kardashian West het behoorlik koppe laat draai in ʼn noupassende Thierry Mugler-rok wat dieselfde kleur as haar vel is. Fopdruppels het van haar hele lyf af gehang om die illusie te skep dat sy nat is.

Kris Jenner het ʼn blonde pruik, ʼn vlootblou Tommy Hilfiger-katpak en ʼn gedetailleerde grys jas met oorgroot skouers gedra.

Die voormalige One Direction-lid Harry Styles en die “Poker Face”-sangeres Lady Gaga was die gasheer en gasvrou van die aand.

Lady Gaga het asems weggeslaan toe sy met ʼn groot helder pienk rok by die geleentheid opgedaag het. Sy het later dié laag van die rok afgetrek om ʼn swart balrok te ontbloot. Maar Gaga het nie daar met die skokfaktor gestop nie. Sy het later die swart rok afgetrek en ʼn noupassende pienk rok onder dít aangehad. Daarna het sy wéér haar rok afgetrek en in swart onderklere, kouse en groot swart stewels by die museum ingeloop. Die hele uitrusting is deur Brandon Maxwell ontwerp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Valerie ·

“Vanity,” soos ons in Engels sê. Belaglik klink ook goed.

J ·

Sjoe, Kim bly darm maar vir jou mooi hoor! What an evening! Great om te sien!

Leeu ·

Die idee van die Met Gala (voorheen Costume Institute Galag) is om belaglik aan te trek, so die lot het dit perfek gedoen! Welgedaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.