Francois van Coke en sy vrou, Lauren Badenhorst, het Maandag hul eerste seuntjie in die lewe verwelkom.
Van Coke het dié goeie nuus op Instagram bekend gemaak.
“Max Badenhorst is hier!” het hy geskryf. “In dié mal jaar het die beautiful boy die lewe kom verbeter. Baie lief vir my amazing vrou en dogtertjie.”
Badenhorst het op haar beurt ook ʼn foto van haar en haar nuwe babatjie gedeel met die onderskrif “What a vibe”. Sy het ook almal op sosiale media bedank vir al die mooi boodskappe wat hulle aan haar gestuur het.
Van Coke en Badenhorst het reeds ʼn vierjarige dogtertjie, Alex, en hulle het in Mei vanjaar aangekondig dat hulle ʼn gesin van vier word.
Van Coke het vroeër aan Maroela Media vertel dat sy hele lewe verander het toe hy ʼn pa geword het.
“Voordat ek my dogtertjie vasgehou het, het ek nog net sowat twee babas in my hele lewe vasgehou. Dat ek moet kinders hê, was nooit ʼn droom wat ek gehad het nie. Maar dit het heeltemal verander toe ek haar [Alex] die eerste keer sien en in haar oë kyk.
“Dit is moeilik om te verduidelik, maar dinge verander. Jy besef haar lewe is belangriker as jou eie. Dit is die wonderlikste en moeilikste en coolste ding in die wêreld.”
- Lauren en Max (Foto: Instagram)
- Francois en Alex (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Baie geluk! Kosbare tye wat gekoester moet word. Elke kindjie is ‘n geskenk van God. Mag jul seuntjie vir jul net soveel vreugde bring soos jul dogtertjie.