Foto’s: Voorbereidings vir koninklike troue in volle swang

'n Amptelike kennisgewing van die Kensington-paleis. (Foto: Twitter/Kensington-paleis)

‘n Amptelike kennisgewing van die Kensington-paleis. (Foto: Twitter/Kensington-paleis)

Die Kensington-paleis het Vrydag amptelik aangekondig dat Meghan Markle, die Amerikaanse aktrise wat Saterdag in Windsor in Engeland met prins Harry in die eg verbind word, deur haar aanstaande skoonpa, prins Charles, na die kansel begelei sal word.

“Me. Meghan Markle het die prins van Wallis gevra om haar na die kansel van die St. George’s-kapel te vergesel,” lui die amptelike verklaring. “[Hy] is bly om Me. Markle op hierdie wyse by die koninklike familie te verwelkom.”

Dié nuus kom nadat die paleis Donderdag ʼn verklaring van Markle uitgereik het waarin sy bevestig dat haar pa, Thomas Markle, nie die troue sal bywoon nie as gevolg van gesondheidsprobleme.

“Ongelukkig sal my pa nie ons troudag bywoon nie. Ek het nog altyd baie vir my pa omgegee en hoop hy kan sy spasie gegun word terwyl hy fokus op sy gesondheid,” lui die verklaring. “Ek wil graag almal bedank wat vrygewige boodskappe van ondersteuning aangebied het. Weet asseblief hoe baie ek en Harry daarna uitsien om ons spesiale dag Saterdag met julle te deel.”

Intussen het dié nuus nie ʼn demper op die gees en opwinding rondom die troue geplaas nie en is voorbereidings vir die groot dag in volle swang.

Clair Ptak besig met die troukoek. (Foto: Twitter/Kensington-paleis)

Clair Ptak besig met die troukoek. (Foto: Twitter/Kensington-paleis)

Kensington-paleis het Donderdag foto’s gedeel van Claire Ptak, die bakster wat aangestel is om die troukoek te bak. Die koek bevat glo 200 Amalfi-suurlemoene, 500 organiese eiers uit Suffolk, 20 kg botter, 20 kg suiker, 20 kg meel en 10 bottels Sandringham Elderflower-stroop.

The Independent berig dat Ptak en ʼn span van ses bakkers saam werk aan dié drielaag-skepping van suurlemoen en elderflower.

“Die elderflower is so eg Brits vir my wat van Kalifornië afkomstig is,” het Ptak aan The Independent gesê. “Dit is soort van ʼn hemelse blommegeur wat myns insiens baie spesiaal is, veral vir ʼn troue.”

Presies hoe die koek gaan lyk, is nog ʼn geheim. “Dit gaan ons nie verklap nie. Dit is ʼn nie-tradisionele uitleg. Ons wyk so effe van tradisie af,” het Ptak bygevoeg.

Meer as 250 lede van die Britse gewapende magte het gister aan ʼn kleedrepetisie deelgeneem waartydens die koetsoptog deur die stad Windsor ingeoefen is. (Foto: Twitter/Kensington-paleis)

Meer as 250 lede van die Britse gewapende magte het gister aan ʼn kleedrepetisie deelgeneem waartydens die koetsoptog deur die stad Windsor ingeoefen is. (Foto: Twitter/Kensington-paleis)

Meer as 250 lede van die Britse gewapende magte het gister aan ʼn kleedrepetisie deelgeneem waartydens die koetsoptog deur die stad Windsor ingeoefen is.

Maroela Media het vroeër berig dat dit al sedert koningin Elizabeth II se troue ʼn Britse tradisie is dat kinders – vriende en familie van die koninklikes – deel van die gevolg is en dat Harry en Meghan besluit het om by dié tradisie te hou.

Meghan se blommemeisies is prinses Charlotte (3) van Cambridge, dogter van prins William en Catherine, die hertogin van Cambridge; Florence van Cutsem (3), peetdogter van prins Harry en dogter van maj. Nicholas en Alice van Cutsem, vriende van die koninklike familie; Remie Litt (6), Markle se peetdogter en dogter van Darren en Benita Litt, vriende van Markle; Rylan Litt (7), nog ʼn peetdogter van Markle en Remie se suster; Ivy Mulroney (4), dogter van Benedict Mulroney, ʼn televisie-aanbieder en vriend van Markle; en Zalie Warren (2), nog ʼn peetdogter van prins Harry en dogter van Jake en Zoe Warren, vriende van die koninklike familie.

Daar sal nie van Harry se naby vriende in sy gevolg wees nie, behalwe prins William, sy broer, wat saam met hom voor die kansel sal staan. Harry was ook die strooijonker op William en Kate se troue in 2011.

Harry se hofknapies is prins George van Cambridge (4), die oudste seun van prins William en Kate; Jasper Dyer (6), ʼn peetkind van Harry en seun van Mark en Amanda Dyer, sleutelfigure in Harry se lewe sedert hy ʼn jong seun was; en Brian en John Mulroney (albei 7), seuns van Benedict en Jessica Mulroney.

Die paartjie het wel by verskeie geleenthede gesê hulle voel nie noodwendig so sterk oor tradisie soos hul oor mekaar voel nie.

Lees alle vorige berigte oor die koninklike troue hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.