Foto’s: ‘Vuil Wasgoed’-akteur haak binnekort af

verlowingsfoto adam fine 2

Anré Roux en Charlie Bouguenon. (Foto: Adam Fine Photography)

Charlie Bouguenon, die kaalkopakteur wat as die skurk Joe Gotty te sien is in die Afrikaanse lokettreffer Vuil Wasgoed, trou binnekort met Anré Roux, ʼn Noord-Kaapse aktrise.

Bouguenon vertel hy en Anna, soos hy haar noem, het in Mei verlede jaar by ʼn lodge in Steynshoop verloof geraak. Die paartjie is sedert 2015 in ʼn verhouding.

“Dit was heerlik, want ons was die enigste mense daar. Ek het gereël dat ʼn sjef die hele naweek lank vir ons kook en sou al op dag een die ja-woord op ʼn berg in die omgewing vra.”

Sy planne is egter deur ʼn reënbui in die wiele gery en toe hy op die tweede dag ná ʼn besoeke aan die olifant- en leeubewaringsreservate in die omgewing ook nie die kans kry om die groot vraag te vra nie, het hy haar op die derde dag teen die berg opgeneem.

“Ek het vir haar gesê die laaste ding wat ek wil doen voor ons huis toe gaan, is om net die berg uit te gaan klim. Dit was ʼn bietjie hoër en verder as wat ek aanvanklik gedink het, en Anré wandel nie – sy lóóp om daar te kom,” het hy laggend aan Maroela Media vertel.

“Toe ons uiteindelik bo-op die berg kom, het ek met my toesprakie begin, en sy begin toe praat oor iets anders. Ek moes haar toe weer in die rede val met my baie belangrike vraag,” het Bouguenon vertel.

verlowing 2

Charlie en Anré tydens die verlowing. (Foto: Verskaf)

Hy het vertel Roux was “uitbundig gelukkig” toe hy uiteindelik op een knie neersak. “Haar eerste reaksie was: ‘Is jy ernstig? Weet my ouers?’”

Bouguenon vertel Roux se geboortesteen is ʼn tanzaniet. “Ek het vir haar ʼn Browns-nommertjie met ʼn blou tanzaniet gekry, want dit pas by haar.”

Volgens Bouguenon is Roux, wat van Upington in die Noord-Kaap afkomstig is, baie geheg aan haar familie. “Ek het een middag, terwyl haar ma en pa in Gauteng was, skelm ouers gevra. Ek was in ʼn kortbroek en wessie, glad nie soos ek dit beplan het nie!”

Die paartjie trou op 14 April by die Makiti-venue naby die Wieg van die Mensdom in Gauteng. “Ons wou in die herfs trou, omdat ons die herfskleure van geel en goud en rooi by die troukleure wou implimenteer. Ons wou ook baie graag ʼn trots Suid-Afrikaanse troue hê, daarom het ons die venue naby die Wieg van die Mensdom gekies.”

verlowingsfoto adam fine 6

Bouguenon en Roux se verlowingsfoto’s is in Maboneng geneem. (Foto: Adam Fine Photography)

Die plaaslike modeontwerper Diaan Daniels, wat ook al trouklere vir bekende paartjies soos Rikus en Kaylee de Beer en Charlize Berg en Warren Linden gemaak het, gaan ook sorg vir Bouguenon en Roux se uitrustings.

“Anré se ring word ook in Cullinan gemaak deur Prima Lux. Dit pas mooi in by ons eg Suid-Afrikaanse tema,” vertel hy.

Hy het gesê dit voel kompleet asof hy “die vervaardiger is van ʼn romantiese fliek en hulle die hoofrolle speel”. “Dit is régtig ʼn droomtroue. Ons sien uit daarna om al ons familie en vriende daar te hê en vir die groot kuier. Dit is moontlik die enigste dag in jou lewe waar almal vir wie jy lief is, saam onder een dak is. Dit is baie spesiaal.”

Bouguenon beskryf Roux as “ʼn rots en staatmaker”. “Ons verhouding is so standvastig. Natuurlik het elke verhouding sy pyne, maar ek het beslis die regte vrou gevind.”

Vir kinders is hulle nog nie gereed nie. “Anré was broeis, totdat haar ouer suster onlangs ʼn baba gehad het, en sy ná ʼn paar oppas-sessies agtergekom het kinders is harde werk,” het hy geskerts. “Ons wil net eers nog die getroude lewe en tyd saam met mekaar geniet.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.