Foto’s: Ware troufees vir Herman Kleinhans en bruid

Herman Kleinhans en Maryke is op 29 Januarie getroud. (Foto: Zeven Media)

Herman Kleinhans, die sanger en liedjieskrywer wat bekendheid verwerf het as deel van die sangduo Twee en deesdae solomusikant is, het vroeër vanjaar trou beloof aan Maryke Steyn by die Bruintjieskraal-kampeerterrein in die Baviaanskloof – en dit was ʼn ware troufees presies so na die egpaar se hart.

Die bruilofsfees het van die Vrydagmiddag tot die Sondagoggend gestrek en het die paartjie, wat in Maart verlede jaar verloof geraak het, se naaste vriende en familie ingesluit. Daar was ook ʼn hele paar bekendes en musikante wat deel was van die fees, met onder meer Spoegwolf, Esté en Lourens Rabe van The Bottomless Coffee Band en Deon Meiring wat vir die vermaak gesorg het.

Kleinhans vertel aan Maroela Media hy het ook vir Steyn, wat mal is oor langarm, verras met optredes deur Lianie May, Nicholis Louw en Kurt Darren.

Hulle het besluit om reeds die Vrydag, voor al die verrigtinge afgeskop het, hulle amptelike troufoto’s te neem. Steyn het ʼn spierwit trourok en goue veldskoene vir die geleentheid gekies, terwyl Kleinhans ʼn knopieshemp, kortbroek en bruin veldskoene gedra het.

Herman en Maryke het hulle eie troubeloftes aan mekaar voorgelees. (Foto: Zeven Media)

“Ek het vir Maryke reeds die dag voor die amptelike troue vir die eerste keer in haar rok gesien. Ons het besluit om die fotosessie die dag voor die troue af te handel, want ons wou soveel as moontlik tyd saam met ons geliefdes deurbring en ʼn fotosessie neem baie tyd in beslag,” verduidelik Kleinhans.

Die foto’s is geneem deur Chris en Lindie van den Burgh van Zeven Media. “Toe ons ʼn fotograaf vir die dag moes kies, was daar vir ons geen twyfel oor wie ons sou wou vra om ons foto’s te neem nie.”

Die bruilofsgaste het reeds die Vrydag van heinde en verre in die Baviaanskloof aangekom om Kleinhans en Steyn se groot dag saam met hulle te vier.

“Ons is die Saterdagmiddag amptelik getroud, waartydens ons ons eie huweliksbeloftes aan mekaar voorgelees het. Dit was baie spesiaal. Ons het besluit om daarna in die water by die rivier te klim en net ʼn halfuur saam deur te bring waar ons as pasgetroudes in die water dryf. Dit was ʼn magiese oomblik om net saam tussen die dramatiese kranse tyd in die water deur te bring terwyl ons naaste familie en vriende vir ons wag,” vertel Kleinhans.

Die gaste het daarna by hulle in die water aangesluit waar die feestelikheid behoorlik begin het. “Dit was so lekker om net ʼn klomp gelukkige mense, wat lag en swem en kuier, bymekaar te hê. Dit was baie informeel en ons het sommer roosterkoeke bedien en musiek gemaak. Dit was ʼn ongelooflike ontspanne atmosfeer langs die water.”

Later die aand is gourmet hamburgers en skyfies bedien. “Ons wou nie ʼn aansitete bedien nie en wou by die feestema hou met eenvoudige kos. Ons ken nie iemand wat nie hou van ʼn hamburger en skyfies nie,” lag Kleinhans.

Hy sê dit is moeilik om die gevoel te beskryf toe hy vir Steyn die Saterdagmiddag in die paadjie sien afstap om ewige trou aan hom te beloof.

“Ek het die instapliedjie vir haar gesing, en die gehoor het saam gesing. Ek het gesukkel om die koorgedeelte te sing, want my stem het toe reeds gebewe van die emosie,” vertel hy.

“Ek het al baie troues in my lewe bygewoon, maar dit is anders wanneer jy die een is wat voor die kansel wag. Die oomblik is groter as wat ʼn mens vir enigiemand kan beskryf.”

Herman en Maryke het op Zanzibar uitgespan vir hulle wittebrood. (Foto: Instagram/Herman Kleinhans)

Hulle het na afloop van die troufees sowat vyf dae in die prentjiemooi Eersterivier in die Oos-Kaap deurgebring en is daarna eers saam Bloemfontein toe vir ʼn vertoning voordat hulle op Zanzibar gaan uitspan het.

“Ons het ʼn egte eilandvakansie gehou, waar ons net langs die swembad gelê het met drankies in kokosneute en werklik net ontspan het. Ek is gewoonlik ʼn bietjie meer avontuurlustig en dit is nie gewoonlik hoe ek vakansie hou nie: Wanneer ek reis, hou ek daarvan om net vir die eerste en laaste aand verblyf te bespreek om dinge oop te hou vir ʼn avontuur, maar met dié vakansie het ons ʼn pakket bespreek en dit was baie ontspannend. “

Hy verklap dat hulle beplan om vanjaar gereeld hulle reistasse te pak vir bestemmings in die buiteland, waarna hulle die gesin van drie honde en ʼn kat met ʼn pienkvoet wil uitbrei.

“Ons wil vir nou net eers saam reis, die wêreld sien en tyd saam deurbring. Daarna sal ons graag ʼn kleintjie in die gesin wil verwelkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jedi Knight ·

Volpunte vir n unieke troue en onthaal. Die meeste troues is mos maar 99.999% identies.

Annalie ·

Baie mooi troue. Jou liedjie “Dankie” is pragtig. My seun het dit vir my gestuur. Mens het nie nodig om te praat nie, net luister. Ek glo julle gaan baie gelukkig wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.