Francois van Coke deel hartseer nuus

Ringo van Coke was ‘n bekende gesig onder Van Coke se aanhangers. Foto: Francois van Coke/Facebook

Die rock-sanger Francois van Coke het Maandagoggend op sosiale media die hartseer nuus gedeel dat sy geliefde bulhond, Ringo van Coke, Sondag dood is aan ʼn hartaanval.

“Ons is so hartseer. Ons kind, vriend en lojale metgesel is gister oorlede,” het Van Coke in ʼn hartroerende boodskap op sosiale media geskryf. “Ringo van Coke het gister ʼn hartaanval gehad en was dadelik weg.”

Ringo, wat in September vyf jaar oud geword het, is die inspirasie vir die reël “ons het ʼn hond, ons het ʼn huisie” uit Van Coke en Karen Zoid se treffer, “Toe vind ek jou”. Ringo is ook die gesig vir Van Coke se aanlynwinkel en produkte en die ster van die musiekvideo vir Van Coke se enkelsnit “My hart”.

“Niks sal hom ooit kan vervang nie. Hy was baie meer as ʼn hond en het so baie gedoen in sy kort lewe. Ek gaan elke dag aan hom dink as ek die Van Coke-logo sien en gaan oor hom sing totdat ek doodgaan. Want ons het nou net ʼn huisie, sonder ʼn hond,” het Van Coke op Instagram gesê.

“Ek kan nie glo hy is weg nie. Ons gaan hom so baie mis. Ek en Lau kan nie ophou huil nie. Ek wens Alex [Van Coke se dogter] kon meer tyd met hom spandeer, sy was klaar so lief vir hom.”

alex en ringo

Francois en Lauren se dogtertjie, Alex Lila, saam met Ringo. Foto: Francois van Coke/Instagram

Van Coke het aan Maroela Media gesê Ringo was ʼn sieklike babahondjie, maar dat dit die laaste paar jaar goed gegaan het met sy gesondheid.

“Ek het teruggekom huis toe van ʼn paar vertonings in Gauteng. Ons het die middag uitgehang en ek het vir hom die bal gegooi en vir hom borrels geblaas – hy was mal daaroor om met die borrels te speel. Hy het in die voortuin gaan staan en skielik net begin wieg en omgeval,” het Van Coke gesê.

Volgens Van Coke het hy en sy vrou, Lauren Badenhorst, met Ringo na die veearts gejaag, maar die twee adrenalieninspuitings wat hulle hom in sy hart gegee het, het hom nie bygebring nie.

“Ringo se invloed op my en my aanhangers is groter as wat ek besef het – die ondersteuning wat ons ontvang is oorweldigend,” het Van Coke gesê.

Kyk hier na die video vir “My hart”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Wilmarie ·

Ag nee!! Jissie, mens raak so lief vir jou viervoetige kinders!

Alta Schutte ·

So jammer om te hoor van julle honde-kind/vriend wat julle verloor het….

Chris ·

Jammer vir die eienaar. Ek het altyd ‘n hond gehad. Twee jaar gelede is my hond dood. Ek stry elke dag daarteen om te swig en weer ‘n hond aan te skaf. Ek het my voorgeneem nie weer nie. Ek raak te geheg aan die diere. Is mal oor honde, maar nie weer nie. Ek tjank nog steeds.

countryboy ·

Komaan mm die is mos nou nie nuus nie…n bekende se troeteldier is dood…so what…van my troeteldiere is ook al dood…die lewe gaan seker oor bietjie meer as net dit….(voor ek gekruisig word, ek is n diereliefhebber, ek dink net nie die is noemenswaardig nuus nie)

Annelize ·

Ai tog Countryboy, slegte oggend gehad?
Verslaap, voet aan die laken vasgehaak toe jy opstaan en kennebak eerste in die koos geval, met jou tong tussen jou tande? Toemaar, more behoort beter te wees.

burger kruger ·

@countryboy eks seker jou diere was net n tuin ornamente . Ons wat regtig lief is vir ons diere sal vir altyd treur oor hulle.

Frieda ·

Dis so hartseer!!!!!!! Ek kry julle baie jammer die gemis gaan lank wees………………………
Sterkte

Pers Heks ·

Ag kry ek sommer ‘n knop in my keel!! So vreeslik jammer …. dit is asof jy ‘n stukkie van jou hart verloor!!!!

Aap Se Kind ·

Daar is soveel meer belangriker goed as die snert. As mense van celebs wil lees kan mens hul mos volg op Fb/Twitter.

Helene ·

RIP dierbare Ringo. Dis aaklig om n geliefde dierekind te verloor!

Elred Ferreira ·

Ons is almal lief vir ons diere,maar dit kan wragtig beswaarlik nuuswaardig wees.Het Maroela media nie genoeg egte nuus nie???

Elred Ferreira ·

My magtig….is dit nou julle weergawe van nuus???

HB ·

Regtig? Daagliks staan mense troeteldiere aan die dood af….waarom sal hierdie nou die nuus haal….omdat dit ‘n bekende persoon is?? En dan nie opskrif “Francois van Coke deel hartseer nuus”. Ag nee, werklik? Ek het dadelik aangeneem hy wil ophou sing of so iets tot ek die heel eerste sin lees. Sommer dadelik ophou lees.

tokkie ·

Asb mense as julle nie dit wil lees gaan verby, Dis nie nodig om kommentaar te gee . Julle wil seker ook maar ‘n eiertjie lê. Hoekom lees julle dit. Lekker nuuskierig

M'Lady ·

Aan al die suurknolle hierbo. Ja almal het al troeteldiere aan die dood afgestaan maar hulle was natuurlik nie so geliefd soos Ringo was nie. Tien teen een almal buite honde en nooit deel van die gesin nie. Sien hierdie honde daagliks. Dis vir ons ware diereliefhebbers asof een van die gesin oorlede is. Baie traumaties.

Chris Mis ·

Wat’s die big issue ?? Gaan koop net ‘n ander een …. lyk almal tog maar amper dieselfde. Kan jou verseker jy gaan gou weer net so mal wees oor die nuwe een !!

Helene ·

Red nou n nasie met sulke attitudes. Genade …. Ringo was geliefd. Elke troeteldier het n persoonlikheid. Jy vervang hulle nie. Elkeen is uniek. Die menslike ras is maar n simpel spesie!!

M'Lady ·

Chris Mis, jy moet verseker nie n troeteldier eienaar word nie, en as jy een is, kry ek daardie diere maar bitter jammer.

Karin, Witrivier ·

Innige simpatie aan almal wat al totsiens moes sê aan ‘n geliefde hond. My 13-jarige worshondjie is op 17 Nov oorlede en ek mis haar verskriklik baie. Het al baie honde gehad, maar sy was spesiaal, seker omdat ek nou al oud is en die kinders almal uit die huis
Sy was my liefdevolle getroue maat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.