‘Fynskrif’-akteur skep aanlyn platform vir akteursgemeenskap

Edwin van der Walt.

NovieGuide is ʼn splinternuwe opvoedkundige aanlyn platform wat voornemende akteurs, sowel as akteurs wat reeds in die bedryf werksaam is, met behulp van praktiese klasse en gidse toerus om hul vaardighede te slyp en ontwikkel.

Die platform is van stapel gestuur deur Edwin van der Walt, die akteur bekend om sy rolle in die rolprente Ballade vir ʼn enkeling en Wonderlus asook sy rol as Wian in die gewilde kykNET-reeks Fynskrif.

Akteurs kan deur Van der Walt se aanlyn klasreeks, A Practical Introduction to Film Acting, op ʼn praktiese wyse die binnewerking van die bedryf leer. Die reeks bestaan uit 19 lesse, wat onder meer behels hoe om voor te berei vir ʼn oudisie, hoe om teksanalise en karakterontwikkeling te doen, hoe om tonele en skote op rolprentstelle te navigeer en hoe om ʼn agent te kry.

Om dit meer toeganklik te maak is die klasreeks slegs in Engels beskikbaar en ʼn aflaaibare handboek van 200 bladsye is ook beskikbaar. Volgens Van der Walt is dit ook belangrik dat vryskutakteurs leer om aanspreeklikheid te aanvaar en om take af te handel.

“Die studente word stap vir stap deur alles gelei. Sodra jy die klasreeks aangekoop het, het jy 12 maande lank toegang daartoe en kan jy enige tyd teruggaan na een van die onderwerpe en weer jou geheue verfris en opskerp,” verduidelik Van der Walt.

NovieGuide is ook ʼn platform waar vryskutkunstenaars ʼn gemeenskap kan skep om met mekaar in verbinding te tree. “ʼn Plek waar ons as akteurs en kunstenaars kan gesels, mekaar leer ken en mekaar opvoed en selfs werk skep. Dit is baie belangrik dat ons moet leer hoe om ons eie werk te skep.”

Hy vertel hy het in 2016 deur ʼn moeilike tyd in sy persoonlike lewe gegaan en het ʼn nota op sy foon gemaak wat sê dat hy mense wil bemagtig deur hulle vaardighede te help slyp.

“Dit was net ʼn random nota wat ek op my foon gemaak het en ek het heeltemal daarvan vergeet. Ek het ʼn paar jaar later op ʼn plek in my loopbaan gekom waar ek gevoel het ek wil ontwikkel en groei. Ek was bevoorreg genoeg om die rolle te kry, maar ek wou nie ophou leer nie. Ek het begin om aanlyn kursusse te doen, podcasts te luister en boeke te lees,” sê hy.

Edwin van der Walt.

Die klasse fokus spesifiek op die praktiese aspekte van die bedryf. “Ek het besef dat ek as akteur nie altyd al die akademiese of filosofiese inligting wil hê nie, hoewel dit ook sy plek het. Ek wou die praktiese kennis opdoen. Ek het ook besef dat vryskutakteurs baie tyd en min geld het en ek wou iets doen wat daardie twee elemente by mekaar kon uitbring. Ons as vryskutakteurs kan ʼn beweging begin waar ons ons eie droomprojekte laat realiseer deur mekaar te bemagtig.”

Volgens Van der Walt is die terugvoer wat hy ontvang oor die NovieGuide oorweldigend. “Wat dit soveel beter maak, is dat mense wat reeds in die bedryf is my laat weet hoeveel dit vir hulle beteken en hoeveel hulle daarby kan baat. Mense is veral gaande oor die gehalte en die verbruikersvriendelikheid van die platform,” sê hy.

Gidse, wat kenners in hulle eie beroepsvelde is, sal ook later deur die platform bekend gestel word.

Van der Walt en sy neef, Louw de Beer, het die platform saam ontwikkel. De Beer woon in Saoedi-Arabië. Van der Walt lag as hy sê dat dit ʼn groot uitdaging is om ʼn vennoot in die buiteland te hê.

“Ek en my neef ken mekaar uiteraard ons hele lewe lank en het albei ʼn groot belangstelling in rolprente asook selfverbetering en ontwikkeling, of dit nou eetgewoontes, voeding, slaap of leierskap is – ons wil meer daarvan weet.

“Hy het in Suid-Afrika kom kuier en het my planne vir die projek gesien. Die res van die vakansie was hy baie nuuskierig oor my projek en net voor hy terug is Saoedi toe, het hy vir my ʼn boodskap gestuur om te sê hy stel belang om in te koop in my projek,” vertel Van der Walt.

“Ons daag mekaar op soveel vlakke uit, en dit is baie lekker. Hy is die ou met die kop vir sake en ek is die kreatiewe brein. Die idee is dat hy uiteindelik terugkom Suid-Afrika toe en ons dan saam volstoom hiermee hardloop.”

Besoek NovieGuide se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.