‘Fynskrif’-akteurspaar verloof

Carel en Cintaine, Foto: Instagram

In die kykNET-reeks Fynskrif het hul verhouding op die rotse beland, maar in die regte lewe is hulle al jare lank saam en nou ook verloof.

Cintaine Schutte (31), wat die rol van die vuurvreter-prokureur Katrien in Fynskrif vertolk, is verloof aan Carel Nel (33), wat die rol van die kunstenaar Sam in Fynskrif vertolk het.

Cintaine het ʼn foto van haar verloofring op Instagram gedeel. “Ons het gister ons ‘anniversary’ gevier,” het Cintaine, wat ook die rol van Michellay in Die kasteel op kykNET vertolk, aan Maroela Media gesê. Die paartjie is al sewe jaar saam.

Volgens Cintaine wou Carel eintlik Sondag die groot vraag gevra het, maar toe eindig sy in die hospitaal op ʼn drup aangesien sy bietjie siekerig was. “Gister stap ons toe teen Leeukop uit – my gunsteling-plek. Ek sien Carel is ʼn bietjie senuweeagtig en tree ʼn bietjie vreemd op. Hy pak toe die piekniek-goed uit en ek sien hy bewe. Hy was ook baie stil en ek praat toe sy kop van sy ore af,” skerts Cintaine.

Cintaine se ring. Foto: Instagram

Carel het in ʼn stadium opgestaan. “Hy het gesê hy het my sewe jaar terug die kys in Paternoster gevra en dat hy ongelooflik lief is vir my. Ek het hom ʼn drukkie gegee en voel toe sy een hand is nog in sy baadjiesak.” Dit is toe dat hy op sy een knie afgaan en die ring uithaal. “Toe vra hy en toe huil ek … en toe moet hy eers seker maak ek het ja gesê,” lag sy.

Die paartjie het nog nie op ʼn troudatum besluit nie en gaan eers die nuwe hoofstuk in hul lewe ten volle geniet. Daneel Diamond Manufacturers op Stellenbosch het Cintaine se ring gemaak.

Cintaine speel in Oktober op die Aardklop-kunstefees in Nico Scheepers se drama Huishou. Sy vervaardig ook die stuk. Sy is op vanjaar se kykNET Silwerskermfees as beste vrouebyspeler bekroon vir haar vertolking van Masja in Christiaan Olwagen se rolprentweergawe van Die seemeeu. Dié fliek word op 15 Maart in teaters uitgereik.

Sy het ook ʼn Kanna en Fleur du Cap-prys gewen vir haar rol in die verhoogweergawe van dié Tsjechof-drama.

Carel was al te sien in flieks soos The Salvation (2014) en Shepherds and Butchers (2016). Hy is in 2016 op kykNET se Silwerskermfees met die prys as beste akteur in ʼn kortfliek bekroon vir sy rol in die kortprent HUM. Cintaine het teenoor hom in dié prent gespeel.

Carel was verlede jaar te sien as die hartchirurg prof. Christiaan Barnard in die dokumentêre drama Hartstog. Hy is binnekort te sien as die hawelose Sparky in Dominee Tienie, gegrond op Dana Snyman se Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade. Dié fliek word in Januarie uitgereik.

Kim Cloete, wat die rol van Anne Matthews in Fynskrif vertolk, het verlede week verloof geraak aan die akteur Murray Todd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nettie ·

Maroela, maak tog jul opskrif reg – dis “Fynskrif”, nie “Fynksrif” nie.

Tania Heyns ·

Dagsê Nettie

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.