Die bekroonde Afrikaanse skrywer Dana Snyman en sy vriendin, Anette Roberts, is verloof.
Snyman het die nuus Sondag met aanhangers op sy Facebook-blad gedeel.
“En toe raak ons verloof, ek en liewe Anette Roberts! Laas Donderdagmiddag. Iewers in die Koue-Bokkeveld anderkant Ceres. Miskien sal ek eendag ’n boek daaroor skryf: hoe ons afsonderlik moedeloos en gekwel was, hoe ons ontmoet het, hoe ons verlief geraak het,” skryf hy.
Die skrywer sê Roberts het sy lewe omtrent deurmekaar geskommel.
“Dis ’n patetiese, wonderlike, skrikwekkende, dankbare ding om in jou middeljare verlief te raak. Jy ervaar emosies waarvan jy vergeet het. Jy raak effe simpel. Jy wil weer begin om dinge soos “Dankie dat jy jy is” in jou liefdesbriefies te skryf.”
Snyman het ook openhartig oor sy verhouding met Roberts gepraat. Hul albei was voorheen getroud.
“Ek is effe skrikkerig om hierdie op Facebook te plaas, want, ja, wat gaan die mense sȇ? Beide van ons was voorheen getroud. Ons het geleef, opreg geleef, en foute gemaak. Ek wil nie te veel verduidelik nie. Ek en Anette is lief vir mekaar, en ons is sag met mekaar.”
Roberts woon tans in Bloemfontein, maar sal mettertyd by Snyman op Jacobsbaai in die Wes-Kaap aansluit.
Hy skryf hy verstaan waarskynlik nou die liefde beter as voorheen.
“Een van die voordele van verlief-en-lief-raak in jou middeljare is jy het nie meer illusies oor live-happily-ever-after nie. Jy weet live-happily-ever-after is genade, live-happily-ever-after is geduldig, live-happily-ever-after is vriendelik, is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, live-happily-ever-after is nie verwaand nie, handel nie onwelvoeglik nie, en soek nie sy eie belang nie. Live-happily-ever-after bedek alles, hoop alles, glo alles, verdra alles.”
Baie geluk julle. Mag al jul drome waar word.
dankie Liewe Jesus vir 2de kanse.
Baie geluk julle God bless
Baie geluk Dana en Anette, ‘n mens is nooit te oud om geluk te vind nie. “Age is just a number”. Mooiste wense vir die toekoms saam. Nog vele mooi en meelewende stories uit jou pen Dana.
Dit is die mooiste wat ek nog gehoor het van hoe n 2 de kans op geluk beskryf is. Mag God se Seen oor julle huwelik reen.
En hopelik leer mense uit foute