Gerrit Pitout: Lewenstaak vir topkunstenaar

Gerrit Pitout skilder binnekort ses reusepanele vir die FAK. (Foto: Verskaf)

Vir baie stedelinge, veral ons hier in Gauteng, bied die Laeveld ʼn besonderse bekoring.

Vir talle is dit nie net ʼn vrugbare omgewing met die beste subtropiese vrugte, groente en die wonder van die internasionaal bekende Krugerwildtuin se diereryk nie, maar is dorpe soos Witrivier en Barberton die hartland van sommige van ons land se beste en internasionaal bekendste kunstenaars soos die Eloffs, die Bosch-gesin en Gerrit Pitout, wêreldbekende landskapskilder.

Dit is dan ook hierdie inwoner van Pretoria wat die besondere eer te beurt geval het om deur die FAK as die skilder aangewys te word wat toevertrou gaan word met ses reusepanele met ʼn totale lengte van amper 11 meter wat die verwantskap tussen die Voortrekkers en die Groot Trek aan die een kant, en ses bekende Suid-Afrikaanse bergbakens aan die ander kant visueel sal uitbeeld.

Die bakens

Die eerste skildery sal ʼn blik bied op die Winterberge waar die Groot Trek begin het, gevolg deur Blesberg naby Thaba Nchu waar die eerste regering gevestig en kerkstigting plaasgevind het.

Die derde paneel is die bekende Kerkenberg naby Harrismith waar Debora Retief haar vader se naam op ʼn rotswand aangebring het. Elke paneel sal 1,25 meter by 1,8 meter groot wees.

Geleidelik verskuif die uitbeeldings nou noordwaarts na Retiefpas in die Drakensberge, waarna Voortrekkerhoogtepunte in die Magaliesbergreeks onder Gerrit se kwas kom.

Die laaste paneel sal ʼn blik op die Schoemansdal-nedersetting in die verre noorde werp wat deur die Trichardt-trek in die Soutpansberge tot stand gebring is.

Die kunstenaar

‘n Landskap uit Gerrit Pitout se kwas. (Foto: Verskaf)

As een van ons land se bekendste landskapskilders het Gerrit naam gemaak met sy puik waterverfskilderye, maar plaaslike smaakvoorkeur het intussen na olieverf omgeswaai – met die gevolg dat Gerrit se waterverfskilderye feitlik almal na buitelandse kunsliefhebbers in Europa en die VSA uitgevoer word.

Sy loopbaan as skilder kan teruggevoer word na die invloed van sy pa, Tienie Pitout, wat onder andere kunsdosent by die destydse Goudstadse Onderwyskollege was en sy seun aangespoor het om sy eerste uitstalling op 17-jarige leeftyd by Plaston in die Laeveld te hou. Kunskenners en -liefhebbers was gaande oor sy werk, maar die media het daarop gewys dat die jong Gerrit se werk aanvanklik in ʼn mate deur Pierneef en Gregoire Boonzaaier beïnvloed is. Dit het daartoe gelei dat Gerrit sy eie sterk ekspressionistiese en soms selfs kubistiese styl ontwikkel het; die styl wat tans so gesog onder kunskenners is.

Fotograaf

Benewens sy vaardighede met die kwas is Gerrit ook ʼn uitmuntende fotograaf wat nostalgies na die 35 mm-filmdae hunker. Dit is dan ook ʼn passie wat daarvoor sorg dat Gerrit en sy vrou Gené gereeld plekke soos die Kalahari, Sossusvlei en die duine van die Namib besoek sodat Gené ook háár passie as kunstenaar in eie reg kan uitoefen. Trouens, vir Gerrit is daar niks mooier as Sossusvlei se rooi duine met eerste lig nie, en sal hy sy Hilux se neus by elke moontlike geleentheid in daardie rigting draai.

Om die eerste oggendlig op Sossusvlei perfek op ʼn skilderdoek vas te vang, is ʼn kuns wat talle al probeer het, maar wat eers werklik in die hande van iemand soos Gerrit lewend word.

Die gesin

As een van ons land se bekendste landskapskilders het Gerrit naam gemaak met sy puik waterverfskilderye. (Foto: Verskaf)

Na die dood van sy eerste vrou Alida (ook ʼn kunstenaar) in 2014, het Gerrit se lewe weer ten goede verander toe Gené en haar twee kinders, Mia en Christiaan, op die toneel verskyn het. Albei kinders is tans in Hoërskool Waterkloof – binne loopafstand van die gesin se gerieflike meenthuis in Elarduspark waar Gerrit se boonste verdieping-ateljee die sagte lig uit die noorde op sy landskappe laat val.

Voltooiing

Vir Gerrit is hierdie projek seker die belangrikste van sy loopbaan, en oortref dit al die kunswerke wat tot dusver wêreldwyd deur kunsliefhebbers opgeraap is. Die waarde van hierdie projek lê ook daarin dat iets blywends vir die volgende geslag tot stand gebring word.

Hy stel dit so: “Die belangrikste van enige kunswerk lê in diepteperspektief, kleurbalans en atmosfeer. Ek maak nie net ʼn prentjie nie; my landskappe dra ʼn boodskap wat die waarnemer sal raaksien en ervaar. En dit is dán wanneer ek tevrede is met die eindproduk.”

Na raming sal elke paneel – wat in die Voortrekkermonument gehuisves gaan word – minstens vyf weke neem om te voltooi.

Besoek gerus www.artpitout.co.za vir meer oor Gerrit Pitout se werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.