Gewilde aktrise se kleinding gebore

David en Davey. Foto: Instagram

Die aktrise Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, se pienkvoet is Woensdag gebore.

David, ʼn sakeman, het op Instagram aangekondig dat baba Davey sy opwagting gemaak het. Hy het geskryf ma en baba is gesond.

Nadia en David het in Februarie aangekondig hulle verwag hulle eersteling. Hulle het ook vroeër vanjaar swangerskapfoto’s op sosiale media gedeel.

Nadia was tot onlangs nog te sien as die sielkundige Iva in die kykNET-sepie Getroud met Rugby. Sy het die rol sedert 2012 vertolk. Nadia het egter besluit om die sepie te verlaat weens hulle pienkvoet.

Foto: RDK Photography

Nadia het verlede jaar ʼn boek, Paaie van hoop, die lig laat sien. Sy het destyds in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel sy hoop om eendag ʼn ma te wees. “Ek hoop om eendag daai avontuur aan te pak as dit is wat die Here wil hê. Ek sal graag wil hê dat ek en my man fisiek daar kan wees vir ons gesin en dat ons miskien meer gereeld saam om ʼn tafel kan sit en aandete eet en gesels.”

Nadia was ook vroeër te sien as aanbieder van die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou. Sy en David is op 10 September 2016 getrou.

Foto: Elzie Janse van Rensburg van EV Art Productions & Rudi Silberman van Silber Studio

Nadia het vroeër vanjaar aan kykNET gesê sy en David het einde 2017 se kant oor kinders begin gesels. “Ons het gedink ons sal kyk wat gebeur in 2018, maar nooit gedink ons sal so vinnig swanger raak nie.”

ʼn Week later, een dag voor Kersfees, het sy ʼn swangerskaptoets by die huis gedoen en die nuus is bevestig. “Ek het die uitslae bewaar en besluit om dit toe te draai as Kersgeskenk wat ek vir David vroeg die oggend op Kersdag gegee het toe ons alleen was. Hy was omtrent verbaas en verskriklik bly.”

Nadia was vroeër te sien as mede-aanbieder op kykNET se ontbytpogram, Die Groot Ontbyt. Sy het ook al in Binnelanders en 7de Laan verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VanAfrika ·

Baie geluk met jul kleinding se geboorte. Hy gaan sommer baie vreugde bring. Dis die beste avontuur in die hele wye wêreld.

Hannelie ·

Baie geluk Nadia en David, mag klein Davey vir jul baie vreugde bring. PS: Ons mis jou by GMR.

AmY ·

Baie geluk aan Nadia en David. Mag hierdie kleinding vir julle net vreugde bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.