Gewilde sanger kanselleer vertonings, tree uit oor siekte

Neil Diamond

Neil Diamond tydens ‘n vertoning in Februarie 2017. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

Die immergewilde sanger Neil Diamond het aangekondig dat hy nie meer gaan toer nie. Dié nuus kom nadat hy onlangs met Parkinson se siekte gediagnoseer is.

Volgens BBC het Diamond, wat Woensdag 77 jaar oud word, sy toer na Australië en Nieu-Seeland in Maart vanjaar op aanbeveling van sy mediese span gekanselleer.

Die sanger, wat bekend is vir treffers soos “I Am, I Said”, “Forever in Blue Jeans” en “Solitary Man”, was halfpad deur sy 50ste herdenkingstoer toe hy die besluit geneem het. Diamond het luidens ʼn verklaring op sy amptelike webwerf gesê hy het die besluit “met groot onwilligheid en teleurstelling” geneem.

“Ek is so geëerd om my vertonings na die publiek te kon bring vir die afgelope 50 jaar,” het hy gesê. “Ek vra opreg om verskoning vir diegene wat reeds kaartjies gekoop en beplan het om die komende vertonings by te woon.”

Parkinson se siekte is ʼn progressiewe toestand waarin die brein beskadig word. Dit lei dan tot onder meer bewerasie, verandering in spraak en geheueprobleme.

Diamond hoop om aan te hou musiek skryf en op te neem. “Dankie aan al my lojale en toegewyde gehore oor die wêreld,” het hy gesê. “Ek waardeer julle ondersteuning en aanmoediging.”

Hy het ʼn liriek uit sy treffer “Sweet Caroline” aangehaal: “Die rit was ‘so good, so good, so good’ danksy julle.”

Diamond het reeds meer as 130 miljoen albums wêreldwyd verkoop en sal glo Sondag ʼn toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die musiekbedryf tydens vanjaar se Grammy-toekennings ontvang.

Die sanger se laaste vertoning was in Oktober verlede jaar in die Verenigde Koninkryk en Ierland as deel van die 50ste herdenkingstoer. Volgens die verklaring op sy webwerf “maak die aanvang van Parkinson se siekte dit moeilik om te reis en op groot skaal op te tree”.

Soos wat die nuus van Diamond se uittrede versprei het, het vriende in die bedryf en aanhangers hul beste wense aan die sanger op sosiale media gestuur.

“Hou aan veg, ou vriend. Jy het nog ʼn lang pad om te gaan,” het die sangeres Nancy Sinatra op Twitter geskryf. “Eindelose bewondering en liefde vir jou,” het die musikant Josh Groban gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

BB ·

Ai, die nuwejaar bring altyd slegte tyding oor bekende en beminde sangers. Mag hy nog lang pad he om te gaan.

Eish ·

So jammer om dit te hoor.
Van die sewentigs af my gunsteling.
Dit was die tye van langspeelplate en sy musiek se klank onverbeterlik op n Bang & Oluffson of n Marantz hoëtroustel!
Die pad van die ouderdom en naderende dood stap ons almal.

Gustav Barkhuysen ·

Baie sterkte aan Niel Diamond.Mag daar nog vele meer treffers deur jou geskryf en opgeneem word. Ja hy is ‘n legend. Luister mens nog na sy stem klink dit soos in sy jonger dae met treffers soos Amerika, Beautiful noise ens.

Ina De Jager ·

Dis so jammer, ek het groot geword met Neil Diamond, ek word ook amper 50 en my ouers het vir ons altyd sy musiek gespeel en ons het al die woorde so goed geken. Sterkte vir die toekoms Neil Diamond!!

ChrisE ·

Is dit die ou wat Steve Hofmeyer se liedjies sing? Hy is amper net so goed.:-)

VanAfrika ·

Ahhhh, ons familie se “all time favourite” veral my broer sin en dink altyd aan hom daar in OZ as Neil sing. Steve was die ultimate toe ons hom die eerste keer Neil Diamond hoor sing en hy net so klink. Het menige van hierdie konserte bygewoon en kon nie genoeg kry nie. Het so gehoop Neil kom SA toe maar gun hom nou die rus.

ChrisE ·

VanAfrika, mnr Diamond was so drie/vier jaar gelede in Suid Afrika. Was bevoorreg om die geleentheid by te woon. Dit was onvergeetlik. Hy het om 20h00 begin sing en het die verhoog om 22h00 verlaat. Hy het ‘n orkes gehad wat hom begelei het. Jammer oor sy siekte, maar so is die lewe maar.

Hannatjie ·

Een van my gunsteling sangers. Kyk nog gereeld na sy Jazz Singer. Baie sterkte vir hom. Ons word almal ouer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.