‘GMR’-akteur gereed om wêreld aan te pak

Sean van Noordwyk is as Mnr. Wêreld Suid-Afrika 2021 aangewys (Foto: Facebook/Sean van Noordwyk)

Die Getroud met rugby-akteur Sean van Noordwyk is Saterdag as Mnr. Wêreld Suid-Afrika aangewys en hy sê hy is steeds verstom deur alles wat die afgelope paar dae met hom gebeur het.

“Saterdagaand is eintlik steeds vir my ’n legkaart wat ek aan mekaar probeer sit om alles te onthou. As ek na die foto’s kyk van daardie oomblik was ek beslis verras en vreeslik emosioneel. Ek dink die grootste gedagte wat ek in daardie oomblik ervaar het, was dankbaarheid,” sê Van Noordwyk aan Maroela Media.

Van Noordwyk sê hy het nog altyd ʼn platform gesoek om meer te kan uitreik na mense en om betrokke te kan raak in sy gemeenskap om terug te gee. Hy het hard gewerk aan sy persoonlike platform vir die afgelope vyf jaar, en nou was dit die regte tyd vir hom die volgende tree te neem na Mnr. Wêreld Suid-Afrika.

Van Noordwyk vertolk die rol van die rugbyspeler Reitz in die kykNET-sepie Getroud met rugby, maar hy sê sy Mnr. Wêreld Suid-Afrika titel gaan nie in die pad van sy akteursdrome staan nie.

“Ek gaan nie ophou om ʼn akteur te wees nie. Dit is my werk en my grootste passie. Ek sal nooit my tyd as akteur vir enigiets verruil nie.

“Wat vir my belangrik is, is dat ek nie gaan verander as mens as gevolg van die titel nie, ek het reeds ’n fondasie en nou kan ek net daarop bou.”

Sean van Noordwyk op die verhoog by die Mnr. Wêreld SA-kompetisie (Foto: Rudi du Toit Photography)

Hy sien uit daarna om vanjaar sy verantwoordelikhede te aanvaar, wat onder meer behels dat hy Suid-Afrika later vanjaar in die Mnr. Wêreld-kompetisie sal verteenwoordig. Hy wil ook graag saam met Suid-Afrikaanse Depressie en Angstigheid groep (SADAG) werk en vat ook hande met HospiceWits in Johannesburg om ʼn verskil te maak.

Van Noordwyk wil die boodskap oordra tydens sy termyn as Mnr. Wêreld Suid-Afrika dat enigeen ʼn verskil kan maak, maak nie saak waar jy jouself bevind of wie jy is nie.

“Elkeen van ons het ’n stem, elkeen van ons kan ’n verskil maak, elkeen van ons kan mense saambring. Maak nie saak hoe klein die klippie dit is wat jy in ’n groot dam gooi nie, daai klippie maak baie golfies regoor die hele dam. Mahatma Gandhi het gesê ʼn mens moet self die verandering wees wat jy in die wêreld wil sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E ·

Ek het nie geweet daar is ‘n Mnr Wereld Suid-Afrika nie. Dit klink soos ‘n oksimoroon. Suid-afrika is tog nie die wereld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.