Groot jaar wag op Afrikaanse sangeres


sjampanje voorbladDie Afrikaanse blondekop-popsangeres Irene-Louise van Wyk se musiek word beskryf as “voetstamplekker” en haar eerste vollengte album, Sjampanje, beloof om menigte popmusiekliefhebber se liefde vir borrelgommusiek te bevredig.

Irene-Louise, dogter van die ontslape gospelsangeres Irene van Wyk en die bekende musiekpromotor Louis van Wyk, is nog nie lank deel van die musiekbedryf nie, maar haar liedjies het reeds aanhangers reg oor die land se voete aan die jeuk.

Irene-Louise vertel haar eerste enkelsnit, “Meer as woorde”, het haar ʼn goeie hupstoot tot in die bedryf gegee. “Ek onthou hoe opgewonde ek was toe ek ‘Meer as woorde’ gekry het om op te neem, want ek het gedink ek gaan vir die res van my lewe agter ʼn stuurwiel sit en sing. Ek was egter nog baie onseker oor die rigting wat ek met my musiek wou inslaan en het die veilige goed gedoen.”

Die snit “Jy speel ʼn game met my” het haar egter in die regte rigting gestuur. “Mense geniet die liedjie so baie. Daar is nie ʼn beter gevoel as om op die verhoog te staan en die gehoor ken elke woord van jou liedjies nie.”

Met die bekendstelling van die oorwurmtreffer “Vergeet van my” het sy geweet sy is op die regte spoor. Irene-Louise het die liedjie saam met Roux Cloete en Bouwer Bosch geskryf. Die musiekvideo vir dié liedjie is reeds meer as 100 000 keer op YouTube gekyk.

“Na die reaksie wat ek gekry het op dié liedjie, het ek geweet dit is die tipe klank van die musiek wat ek wil maak. Ons luister graag na hierdie pop-klank in Engels, maar daar is nie so iets op die Afrikaanse mark beskikbaar nie en ek is opgewonde om dit met mense te deel.”

As sy die klank met ʼn internasionale kunstenaar sʼn moet vergelyk, sal sy Chainsmokers kies. “Natuurlik Meghan Trainor ook, want die musiek en lirieke is cheeky. Ek hou daarvan om die woord cheeky te gebruik,” lag sy.

“Die musiek is baie girly en veral meisies sal daarby aanklank vind,” sê sy oor liedjies soos “My volgende boyfriend” en “Hou jou hande van my lyf af”.

Daar is net een ballade op die album. “Ek wou eerder musiek maak wat jou in ʼn goeie bui sal sit as jy dit na ʼn lang dag luister. Ek wou hê as die liedjie op die radio speel, moet mense voel hulle wil die klank op sy hardste draai.”

Irene-Louise benadruk dat haar pa se invloed in die vermaakbedryf haar net tot op ʼn punt gehelp het. “Dit het my definitief gehelp dat hy soveel mense in die bedryf ken, maar hy kan ook net soveel doen. Dit is ék wat op die verhoog staan, wat moet perform en wat ʼn goeie optrede moet lewer. As ek my woorde vergeet of nie vir vertonings opdaag nie, is dit net op my.

Irene-Louise en haar verloofde, Nicholas du Preez. (Foto: Facebook)

“Ons het ʼn rukkie gewag voor ek die bedryf betree het en dit het vir my soos ʼn ewigheid gevoel. Ek is baie dankbaar dit het gebeur,” vertel Irene-Louise.

Irene-Louise het in 2016 landswyd saam met die aktrise en motiveringspreker Leandie du Randt Bosch getoer om as voorsanger vir Leandie se Gemaklik in jou eie lyf-motiveringspraatjies op te tree.

“Ons het oor die 60 vertonings uitverkoop. Ons was in die kleinste dorpies reg oor die land tot in Windhoek in Namibië. Dit was ʼn ongelooflike ervaring en ons het fantastiese mense ontmoet. Ons gaan in Februarie en Maart vanjaar weer saam op toer en ek kan nie wag nie.”

Benewens die toer saam met Leandie sien Irene-Louise ook uit na haar troue met Nicholas du Preez later vanjaar. Die paartjie het oor die Kerstydperk in Ysland verloof geraak. “Ons troudatum is 30 September en ek is só opgewonde. Ek het nie gedink ons gaan so vinnig ʼn datum kry nie, maar ek dink ons het genoeg tyd om die reëlings te tref,” vertel sy borrelend.

Sy bieg dat sy verslaaf is aan sosiale media. “As iemand weet van ʼn ondersteuningsgroep vir mense wat aan sosiale media verslaaf is, moet hulle my asseblief help,” skerts sy.

Sjampanje is by alle groot musiekhandelaars en digitaal op iTunes beskikbaar. Gaan na Irene-Louise se Facebook- en Instagram-blaaie vir opkomende toerdatums en ander optredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.