Harry, Meghan se toerplanne vir SA, Afrika bekend

Meghan en Harry (Foto: Instagram)

Harry en Meghan, die hertog en hertogin van Sussex, het vroeër vanjaar aangekondig dat hulle beplan om na Suid-Afrika en ander Afrika-lande te reis en meer inligting oor dié reis is onlangs op hul Instagram-blad gedeel.

Harry en Meghan sal einde vandeesmaand na Suid-Afrika vertrek waar hul besoek sal fokus op kwessies oor gemeenskappe, leierskap, vroueregte, geestelike gesondheid, MIV/vigs en omgewingsake.

“Die hertog en hertogin is gretig om hul energie te fokus op die goeie werk wat in Suid-Afrika gedoen word,” lees die inskrywing.

Die koninklike egpaar sal onder meer met emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ontmoet om die “Waves of Change”-inisiatief op die Monwabisi-strand in Khayelitsha te ondersteun. “Die besoek aan Suid-Afrika sal opvoedkundig en inspirerend wees,” het hulle op Instagram laat hoor.

Prinses Diana in Angola (Foto: Instagram)

“Die hertog is veral ook trots daarop om te bou op sy ma se nalatenskap met haar werk in Angola, wanneer hy saam met die Halo Trust gaan werk in ʼn poging om ontslae te raak van alle landmyne.”

Benewens Angola sal Harry sal ook Botswana en Malawi aandoen waar hy verskeie organisasies sal besoek en projekte bekend sal stel. Meghan en Archie, hul kind, sal egter deurentyd in Suid-Afrika vertoef.

“Die hertogin sal saam met plaaslike organisasies werk om gesondheidsorg, opvoeding, entrepreneurskap en leierskap onder vroue en meisies te bevorder.”

Dié besoek aan Suid-Afrika sal Harry, Meghan en Archie se eerste reis as ʼn gesin wees. Harry het gesê hy is opgewonde oor dié reis omdat Afrika hom na aan die hart lê.

“Afrika is ʼn deel van die wêreld wat oor die afgelope twee dekades soos ʼn tweede tuiste vir my geword het,” het hy gesê. “Ons span het hard gewerk om ʼn betekenisvolle program saam te stel en ons is opgewonde om dit met julle te kan deel.”

Prins Harry en sy vrou, Meghan, met hul eersteling, Archie Harrison Mountbatten-Windsor. (Foto: Dominic Lipinski/Pool via AP)

In die plasing op Instagram word geskryf dat Harry en Meghan dankbaar is vir die geleentheid om bande te bou met die mense in Suidelike Afrika, om geïnspireer te word deur die werk wat gedoen word en om te leer hoe om die streek se mense beter te ondersteun.

“Ek kan nie wag om my vrou en seun aan Suid-Afrika voor te stel nie. Ons sien julle almal binnekort!” het Harry geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos ·

Bring genoeg lyfwagte. SA is nie meer die land wat jou ma geken het nie.

KrokodilBotha ·

Feite Koos. Sal ook nou nie my kalender uitruk om die besoek van harrie en kie te onderstreep om te onthou nie.

colleen ·

Ons land is veilig volgens die ANC. Weet nie hoekom die kaders dan sekuriteit by hul huise het nie en ek wonder hoekom hul lyfwagte moet hê.

Linda ·

Dis nie nou n baie goeie tyd om Suid-Afrika te besoek nie !!! Die onwettige immigrante van Afrika het ons land oorgeneem !!! Bly liewers weg hier.

Poppie ·

Daar wag n hengse surprise vir hulle. Ek bly hier maar as ek nie, sou ek die land nooit besoek nie. Te gevaarlik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.