Harry wéér in hof oor Britse polisiebeskerming vir gesin

Prins Harry en sy vrou Meghan Markle. (Foto: (Daniel Leal-Olivas/Pool Photo via AP, file)

Prins Harry, die hertog van Sussex, glo dat hy gedwing is om die Verenigde Koninkryk (VK) te verlaat en dat hy en sy gesin nooit veilig kan voel tydens besoeke aan sy geboorteland sonder voldoende veiligheid nie, het die hooggeregshof in Londen Donderdag gehoor.

Die hertog is tans weer in die hof nadat die Britse regering in 2021 geweier het dat hy uit sy eie sak vir polisiebeskerming, ʼn voorreg wat hy as ʼn werkende koninklike gratis geniet het, wou betaal wanneer hy en sy gesin in Brittanje is.

Maroela Media het vroeër berig dat prins Harry en sy gesin, wat tans in Kalifornië in die VSA woon nadat hulle in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het, die reg tot polisiebeskerming, waarvoor Britse belastingbetalers moet opdok, verloor het.

Sy eerste poging om private betalings vir polisiebeskerming te maak wanneer hy in die Verenigde Koninkryk is, het in Meimaand in die hooggeregshof in Londen misluk.

Harry se prokureurs het vir ʼn geregtelike hersiening van die verwerping van sy aanbod gevra nadat die uitvoerende komitee vir die beskerming van koninklikes en openbare persone, bekend as Ravec, sy aanbod afgekeur het.

Daar is besluit dat sekuriteit vir die hertog en sy gesin gereël sal word afhangende van die risiko wat hul besoek in daardie gegewe tyd inhou, soos die geval met ander hoëprofiel besoekers.

Prins Harry, die hertog van Sussex, se hofstryd teen die Britse regering duur voort. (Foto: Justin Tallis/AFP)

ʼn Poging om dié uitspraak te hersien is Dinsdag tot Donderdag in die Londense hooggeregshof aangehoor.

Sy prokureur, Shaheed Fatima, het Donderdag gesê Harry aanvaar nie dat hy “gekies het” om van sy pligte as ʼn voltydse werkende lid van die koninklike familie afstand te doen nie.

Fatima het die hertog se skriftelike verklaring aan die hof voorgelees. “Dit was met groot hartseer dat ek en my vrou gedwing gevoel het om van hierdie rol terug te tree en die land in 2020 te verlaat. Brittanje is my tuiste. Dit is sentraal tot die erfenis van my kinders en ʼn plek waar ek wil hê hulle moet net so tuis voel as waar hulle op die oomblik in die VSA woon.

“Dít kan nie gebeur as dit nie moontlik is om hulle veilig te hou wanneer hulle op Britse grond is nie. Ek kan nie my vrou so in gevaar stel nie en, gegewe my ervarings in die lewe, is ek huiwerig om myself ook onnodig in gevaar te stel.”

Sy regspan het verder aangevoer dat Ravec se besluit om sy veiligheidsreëlings te verander “onregmatig en onregverdig” was gegewe die hertog se koninklike status en die wyse waarop sy ma, prinses Diana, in 1997 gesterf het.

Harry, wat nie self in die hof was nie, wag nou op die uitspraak.

Bronne: BBC, AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Ek het al geruime tyd ‘n oordosis van Harry en sy dierbare vroutjie. Wens hul wil stilweg verhuis na ‘n plekkie in Mongolië , Bolivië of Uruguay . Waar ons nie elke dag hoor van hul lewe , konflikte en ander probleme nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.