Hartseer nuus vir Britney Spears

Britney Spears en haar kêrel, Sam Asghari, op die première van ‘Once Upon A Time…In Hollywood” by Chinese-teater in Hollywood, California in 2019. (Foto: Kevin Winter/Getty Images/AFP)

Die popster Britney Spears het Saterdag in ’n Instagram-plasing bekend gemaak dat haar swangerskap, wat sy verlede maand aangekondig het, in ’n vroeë miskraam geëindig het.

“Dit is met diep hartseer wat ons moet aankondig dat ons ons wonderwerkbaba vroeg in die swangerskap verloor het,” het die 40-jarige sangeres in ʼn gesamentlike boodskap met haar lewensmaat, Sam Asghari, geskryf.

Spears het die swangerskap op 11 April in ʼn Instagram-plasing aangekondig en gesê: “So ek het ʼn swangerskapstoets gekry… en uhhhhh wel… ek het ʼn baba.”

Dié nuus het gekom vyf maande nadat ʼn regter in Los Angeles die voogdyskap wat aan Spears se pa toegeken is, beëindig het. ʼn Reëling wat volgens die sanger haar verhinder het om ʼn voorbehoedtoestel te verwyder ondanks haar begeerte vir meer kinders.

In hul plasing Saterdag, het Spears en Asghari bygevoeg dat hulle aanhou gaan probeer om hul gesin uit te brei. “Ons vra vriendelik vir privaatheid tydens hierdie moeilike oomblik.”

Spears het in die plasing waarin sy haar swangerskap aangekondig het, gesê dat sy tydens die swangerskap uit die kollig sou bly om steelfotograwe te vermy en dat sy voorheen aan voorgeboortelike depressie gely het.

Sy is reeds ma van twee tienerseuns, Sean en Jayden, wat sy saam met haar eksman, Kevin Federline, gehad het.

Asghari en Spears het mekaar in 2016 tydens die verfilming van haar enkelsnit, “Slumber Party”, se musiekvideo ontmoet.

Nadat hulle aan die einde van verlede jaar hul verlowing aangekondig het, het Spears na haar 28-jarige lewensmaat as haar “man” begin verwys.

Met die aanvanklike aankondiging van die swangerskap, het Asghari in ʼn afsonderlike Instagram-plasing gesê dat vaderskap iets is waarna hy nog altyd uitgesien het.

“Ek neem dit nie ligtelik op nie. Dit is die belangrikste werk wat ek ooit sal doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Dit maak baie seer. Ons rou 5 jaar later nog ons seun se stilgeboorte.

KatjieDeKat ·

Ag nee dis hartseer, ek was bly vir haar toe ek hoor sy was swanger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.