Help Demi-Leigh só om as Mej. Heelal gekroon te word

Demi-Leigh se tradisionele uitrusting (Foto: Facebook)

Sun International het Suid-Afrikaners vandeesweek aangemoedig om hul stem te laat tel wanneer Demi-Leigh Nel-Peters, die huidige Mej. Suid-Afrika, eerskomende Maandag in aanmerking gaan kom vir die Mej. Heelal-kroon.

Dié kroning word op 27 November by The Axis-teater in Las Vegas in die VSA gehou.

DStv het vandeesweek bevestig dat dié kompetisie regstreeks op Vuzu, DStv-kanaal 116, gebeeldsaai sal word. Suid-Afrikaners kan dus al vanaf 05:00 gereed sit om al die aksie dop te hou, of na die herhalings kyk op 28 November om 20:00 of 2 Desember om 15:00.

“Aanhangers kon stem tot 25 November. Die stemmery sal dan weer kan geskied tydens die regstreekse uitsending van die kompetisie – aanhangers kan dus elke ronde vir hul gunstelingdeelnemer stem. Dié stemmery gebeur tydens die kompetisie; aanhangers moet dus gereed sit om hul stem te laat tel,” lui ʼn verklaring van Sun International.

Nel-Peters het haar kostuums onthul voordat sy in Oktober na Las Vegas vertrek het. Sy het gesê sy is gereed om dié kompetisie aan te pak.

“Ek het reeds met voorbereidings begin toe ek as Mej. SA gekroon is. Ek verstaan die verantwoordelikheid verbonde daaraan om as Mej. Heelal gekroon te word, nes die verantwoordelikheid wat ek as Mej. SA het. Dit het ʼn invloed op miljoene lewens,” het sy tydens die bekendmaking laat hoor.

Die skoonheid se nasionale kostuum, wat ontwerp is deur Malikah Hajee en Lloyd Kandlin van The Costume Department, is geïnspireer deur Suid-Afrika se flora en fauna met ʼn spesifieke fokus op die protea.

Haar aandrok is ontwerp deur Anel Botha met die doel om “gesofistikeerdheid en glans” uit te beeld.

“Demi-Leigh se Mej. Heelal-uitrusting weerspieël haar skoonheid op ʼn miljoen verskillende maniere. Dit beeld ook haar innerlike krag uit en wys haar mooi liggaamsbou,” het Botha vroeër gesê.

Stem só

Aanhangers kan voor die kompetisie stem op die Mej. Heelal-webwerf deur hier te klik. Jy kan tien keer stem. Jy kan ook op Twitter jou stem laat tel deur van die hutsmerk #MissUniverse gebruik te maak – dié stemme geld slegs as dit “hertwiet” word. Dieselfde proses geld sodra die kompetisie begin wanneer aanhangers vir elke ronde kan stem. Die seremoniemeester sal dit telkens duidelik maak wanneer die stemproses in aanvang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Erita ·

“Tradisionele” uitrusting ?
Van onse land?
Dan bly ek iewers in ‘n ander land as wat ek altyd gedink het
Gou my “location” met GoogleTracker soek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.