Herman Lensing: ‘Ek het die lewe deur my ma se voorskoot leer ken’

Herman Lensing (Foto: Verskaf)

Die bekende kosghoeroe Herman Lensing se kosreis het nie begin in ʼn deftige kookskool in Frankryk nie. Nee, sy liefde vir kos het in sy ma, Susan, se kombuis op Upington in die Noord-Kaap begin, waar hy fluks op ʼn stoel staan en help het en alles ingeneem het wat sy hom geleer het.

Lensing se vierde resepteboek is volgens Nielsen BookScan SA die naasbeste verkoper van alle Afrikaanse boeke wêreldwyd. Met dié boek, Dit proe soos huis, eer Lensing sy ma vir alles wat sy hom geleer het. Nadat hy sy ma verlede jaar aan die dood moes afstaan, is hy trots dat dié boek sy ma die wêreld in kan stuur.

“Ek het die lewe deur my ma se voorskoot leer ken – dit was ʼn wonderlike plek om die lewe te leer ken. Ek kon as ʼn jong seuntjie deur my ma se oë sien hoe sy mense se wêrelde beter maak met kos. En ek wou altyd deel wees van daai wêreld.”

Lensing sê hy het rondom sy ma se borde kos gesien hoe mense bymekaar kom, hoe mense mekaar vergewe en hoe hulle die vreugde van die lewe geniet.

“Dit was in daardie kombuis waar ek respek en waardering vir mense en kos en bestanddele gekry het, en dis alles te danke aan my ma, Susan,” sê hy.

Lensing het in 2009 Sarie se kosredakteur geword, het drie resepteboeke voor die ouderdom van 30 gepubliseer, en hy was die aanbieder van VIA se gewilde kosreekse Inspirasiekos met Sarie en Dit proe soos huis.

Hy sê kos het hom aangetrek as gevolg van die samesyn wat dit meebring, asook die proses om kos te maak.

Herman en sy ma, Susan (Foto: Facebook)

Wat vir hom belangrik is, is “daardie oomblik wanneer jy bestanddele gaan koop en jy besef dit kom uit ʼn boer se hand en dat dit met keur en sorg gemaak is. Dan ook die oomblik wanneer jy die kos voor jou gaste neersit, wanneer alles net perfek bymekaarkom.”

“Kosmaak is ʼn kombinasie van bestanddele, emosionele gevoel, geur een smake, en vir my sal nostalgie altyd die belangrikste geurmiddel in enige kos bly,” sê hy.

Vir Lensing het al sy resepteboeke dieselfde DNS en ruggraat – dit is eenvoudige, eerlike huiskos wat met beskikbare bestanddele gemaak is.

“Die kombuis is nie ʼn plek waar jy banggepraat word of punte kry nie. Dit is ʼn plek waar jy net jouself kan wees en mense se lewens beter kan maak.”

Lensing vertel hy het nog lank nie klaar resepteboeke geskryf nie en dat hy nog baie idees het om uit te voer.

“Daar gaan nog baie boeke en stories uit my pen kom, ek is juis besig om te werk aan my vyfde resepteboek. Daar is nog baie idees in hierdie brein,” sê hy.

Lensing sê die feit dat Dit proe soos huis ʼn top-verkoper is, ʼn droom is wat waar geword het, omdat dié boek meer as enige van sy ander boeke, vir sy ma geskryf is.

“Ek wil met hierdie boek iets regkry wat ek nog met geen ander projek reggekry het nie: Ek wil my ma die wêreld instuur. Ek wil vir mense wys dat hulle dieselfde vreugde uit kos uit kan put as wat my ma haar lewe lank daaruit gekry het.”

“Ek dink daai vrou van die Noord-Kaap met mooi rooi glimlag sou net skaam geglimlag het en gesê het sy kan nie glo dat sy goed genoeg is om die wêreld te oorrompel met haar resepte nie. My ma lewe deur haar resepte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niklaas ·

Ek leer nou eers kook en bak , by my vrou. Maar van skottelgoed was kan jy my niks vertel nie.

VannieBaai ·

Ek wil so graag ‘n kopie van hiérdie boek hê. Ek hoop dat dit teen einde Oktober nog op die rakke sal wees sodat ek uiteindelik vir my een kan koop. Ek het elke episode van “Dit Proe soos Huis” gekyk. Dankie Herman vir die deel van jou liefde vir jou moeder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.