Hiérdie bekendes dalk by koninklike troue

Prins Harry en sy verloofde, Meghan Markle, arriveer by die Eikon Exhibition Centre in Lisburn in die noorde van Ierland (23 Maart 2018). Foto: Niall Carson/Pool via AP

Die koninklike troue van prins Harry en Meghan Markle vind oor net meer as ses weke plaas en gerugte begin alreeds die ronde doen oor wie die gastelys vir dié spoggeleentheid gehaal het.

Prins Harry (33) en Markle (36), veral bekend vir haar rol in die televisiedrama Suits, het einde November verlede jaar hul verlowing amptelik bekend gemaak en trou op 19 Mei in Windsor, wes van Londen.

Volgens berigte is sowat 600 mense na die troue genooi en sal ongeveer 200 gaste die onthaal bywoon.

CBS News berig Daniella Timperley, ʼn hoërskoolstudent van Ierland, is een van die gelukkiges wat die gastelys gehaal het. Volgens die berig het Timperley se skool op Twitter aangekondig dat sy weens haar uitgebreide liefdadigheidswerk na die troue genooi is.

Volgens dié nuusagentskap sluit ander name op die gastelys dié in van Nacho Figueras, ʼn bekende Argentynse polospeler, prins Seeiso van Lesotho, Jessica Mulroney, Markle se stilis, en oorlewendes van die Grenfell Tower-brand.

Elle.com berig intussen dat Priyanka Chopra, een van Markle se goeie vriendinne, ook by die troue te sien sal wees, asook die tennisster Serena Williams. Williams is glo ook ʼn goeie vriendin van Markle.

Nog bekendes wat Elle meen moontlik op die koninklike paartjie se gastelys kan wees, sluit in die sangeres Mel B, die glansegpaar David en Victoria Beckham, Pippa Middleton en James Matthews, prinses Beatrice, prins Harry se eksmeisie, Chelsy Davy, en prinses Victoria van Swede.

Kensington-paleis het intussen bevestig die Britse gewapende magte, met wie prins Harry ʼn noue verbintenis het, sal deel van die seremonie tydens die troue wees.

Prins Harry en sy verloofde, Meghan Markle, tydens ʼn besoek aan Belfast in Ierland (23 Maart 2018). Foto: Reuters/Darren Staples

Die paleis het ook bevestig Philippa Craddock, ʼn bekende bloemis, is gekies om die span te lei wat die blommerangskikkings in die kerk vir die troue sal doen. Volgens die paleis sal die blommerangskikkings onder meer gemaak word uit blare wat uit die tuine van die The Crown Estate en Windsor Great Park geneem word. Wit tuinrose, pinksterblomme en vingerhoedjies sal ook by die rangskikkings ingesluit word.

Na afloop van die troue sal die rangskikkings aan verskillende liefdadigheidsorganisasies geskenk word.

Maroela Media het vroeër berig daar word bespiegel dat prins Harry en Markle na verwagting in ʼn luukse lodge in Namibië wittebrood sal hou. Geen amptelike inligting is egter bekend gemaak oor die paartjie se planne ná hul troue nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.