Hiervan droom bekendes in 2019

Beer Adriaanse. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Beer Adriaanse. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Nuwejaarsvoornemens is nie iets waarby enigeen maklik kan hou nie en sommige mense wil glad nie eers voornemens maak nie. Maroela Media het by ʼn paar bekendes aangeklop om te hoor wat hulle graag in 2019 wil aanpak.

Die bekende akteur en skrywer Beer Adriaanse sê hy wil leer mediteer. “Ek wil dit graag leer doen sodat ek my dae reg kan afskop en my gedagtestroom beter kan navigeer,” sê hy.

De Klerk Oelofse, bekend vir sy rol as Boer Jaap in die kykNET-komediereeks Hotel, vertel hy maak nie graag voornemens nie, maar dat hy ʼn poging wil aanwend om meer van Suid-Afrika te sien.

“Ek was gelukkig genoeg om in 2018 al nege van ons wonderlike land se provinsies te besoek, maar in 2019 wil ek nog meer van die klein dorpies en plekke te sien kry.”

Roeline Daneel, dogter van die befaamde aktrise Elsabé Daneel, sê sy wil graag ʼn paar leefstylaanpassings maak in die nuwe jaar. “Ek wil minder kos bestel en meer self kos maak,” verklap die aktrise wat te sien is in die gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif.

Sorina 'Die Flooze' Erasmus. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Sorina ‘Die Flooze’ Erasmus. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Ek wil minder vleis eet en beter gebruik maak van my gimlidmaatskap. Ek wil ook graag leer Xhosa praat. Verder hou ek duim vas vir ʼn jaar vol lekker en uitdagende werksgeleenthede en baie lag en rustigheid saam met my vriende en familie.”

Sorina “Die Flooze” Erasmus skerts dat sy nog nie so ver gedink het nie. “Maar in alle erns, is die ‘Gebed’ van Koos Doep élke dag en élke jaar my hart se wens, gebed en voornemens.”

Cintaine Schutte, die donkerkop-aktrise wat in 2019 op die grootskerm te sien sal wees as Masha in die Christiaan Olwagen-fliek Die Seemeeu, het ʼn hele paar voornemens vir haarself uiteengesit.

“Moenie bang wees nie. Wees sagter met jouself. Maak meer tyd vir ou kennisse. Onderneem een epiese staptoer. Skryf meer – en doen een ding elke dag wat jou verras,” noem die Fynskrif-aktrise hulle op.

Die grapjas en sosialemediavlinder Craig du Toit Nel sê hy wil graag nog meer grappe en lawwe dinge kwytraak in die nuwe jaar. “Ek wil my Craigenators laat lag en seker maak ek versprei lig, lag en liefde. Ek wil ook graag meer tyd vir my man, kinders en gesin maak.”

Sean van Noordwyk. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Getroud met rugby se hartebreker Sean van Noordwyk, wat die rol van Reitz Bekker vertolk, sê hy gaan in die nuwe jaar homself eerste stel. “ʼn Eienskap waaroor ek nog altyd beskik het, is om heeltemal uit my pad uit te gaan vir ander mense en ek sal dit nooit wil verander nie. Vanjaar was wel die jaar wat ek regtig ervaar het hoe dit voel as mense daardie eienskap misbruik, so ek gaan veral daarop fokus om die regte balans te vind.”

Die gewilde kletsrymer en aanbieder van Die Kliek op VIA, Jack Parow, sê hy is opgewonde oor 2019. “Dit is volgende jaar 10 jaar sedert “Cooler as ekke” uitgereik is. Ons gaan ʼn paar arenavertonings doen, plaaslik en in die buiteland. Ek bring ook ʼn kort album in Suid-Afrika en in Holland uit. Ek hoop maar net om nie uit te brand van al die moeilikheidmaak nie,” skerts hy.

Altus Theart, bekend vir sy rol as Fafa Beltrami in Getroud met rugby, sê hy sien uit na ʼn groter en beter jaar as 2018. “Ek hoop my sanggroep, EON, sal van krag tot krag groei. Ek sien ook uit daarna om te sien wat my seuntjie, Alexander, hierdie jaar gaan doen.”

Hykie Berg, die gewilde sepie-akteur en motiveringspreker, sê hy glo glad nie in Nuwejaarsvoornemens nie. “Die eerste Januarie is vir my net so goed soos vandag, en Maandag is vir my net so goed soos Vrydag. Jou ingesteldheid is nie altyd reg daarvoor nie. Ek het ʼn paar doelwitte, soos om my besigheid uit te brei en ons gaan ook Turkye besoek. Ek wil ook graag in Israel gaan draai. Ek moes myself leer dat Maandag nie ʼn werksdag en Vrydag ʼn partytjiedag is nie – elke dag is ʼn nuwe dag.”

Die sanger en skrywer Tobie Jooste sê 2018 was ʼn moeilike jaar vol uitdagings. “Dit was ook vol lesse. Dus wil ek in 2019 meer tyd aan myself bestee en minder bekommerd wees oor dinge waaraan ek niks kan verander, soos die situasie in ons land, nie. Ek wil meer gee, selfs as dit soms iets kleins soos net ʼn glimlag of ʼn klop op iemand se skouer is.”

Die gewilde aktrise Simoné Nortmann sê sy wil graag in die nuwe jaar die dinge wat sy begin, klaar maak. “Ek is nie baie goed daarmee nie. My perfeksionisme skop in die middel van die proses in en dan raak ek gefrustreerd, en dan los ek dit sommer net. Ek wil ook graag meer in die oomblik leef en minder tyd op sosiale media deurbring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.