Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.
Beskermingsbevel-drama vir The Bachelor-paartjie
Sake tussen Colton Underwood en Cassie Randolph, die bekende Amerikaanse The Bachelor-paartjie wat vroeër vanjaar hulle verhouding beëindig het, het nou verder versuur nadat Randolph vandeesweek ʼn beskermingsbevel teen Underwood verkry het.
Dit volg nadat Underwood haar glo geteister en agtervolg het. “Hy stuur vir haar ontstellende selfoonboodskappe, bel haar onophoudelik en het ʼn opsporingstoestel in haar voertuig laat aanbring om haar bewegings te volg,” lui ʼn verklaring wat E! News saam met die bevel onder oë gehad het.
Underwood het glo tydens so ʼn voorval vir Randolph agtervolg na haar ouerhuis in Huntington Beach in Kalifornië. Randolph se broer het Underwood glo buite haar slaapkamer in die vroeë oggendure gewaar.
Nadat hy oor dié voorval gekonfronteer is, het Underwood vir Randolph, haar broer en haar beste vriendin, Linda Salas, ontstellende boodskappe gestuur. Underwood is ook sedertdien gereeld in die omgewing van haar ouerhuis, sowat 50 km van sy huis in Los Angeles, gesien.
Underwood het glo teenoor ʼn vriend erken dat hy gereeld na Randolph se woonstelblok stap en haar bewegings dophou.
Hy het ook vir haar boodskappe van ander selfoonnommers af gestuur en voorgegee dat hy dan self ʼn slagoffer is wat boodskappe van dieselfde nommers ontvang.
Op 19 Augustus het Randolph bewus geraak van die opsporingstelsel in haar motor. “Twee dae nadat Randolph die owerhede en ʼn privaat speurder uit vrees vir haar lewe genader het, het Underwood erken hy het die opsporingstelsel in haar motor geplaas én die anonieme selfoonboodskappe gestuur,” sluit die verklaring af.
Underwood (28) het nog nie in die openbaar kommentaar gelewer oor die aantygings nie. Die paartjie was twee jaar saam voordat hulle paaie in Mei vanjaar geskei het.
Ashley Tisdale is swanger
Ashley Tisdale, die aktrise bekend om haar rol as Sharpay Evans in die High School Musical-rolpent-franchise, is swanger.
Sy en haar man, Christopher French, het die nuus op Instagram bekend gemaak deur foto’s sonder byskrifte te plaas. In die foto’s wys Tisdale haar klein bababoepie, sy en French albei geklee in wit.
Die egpaar het op 8 September vanjaar hulle sesde huweliksherdenking gevier. By ʼn troufoto op Instagram het Tisdale geskryf: “Ek kan nie glo ek is al ses jaar getroud nie. Tyd vlieg! Chris, jy maak my werklik ʼn beter weergawe van myself, want jy inspireer my elke dag. Jou hart is rein, jy sal enigiets doen om my gelukkig te maak en deur dik en dun is jy my rots.”
Tisdale is ook bekend om haar rol as Maddie Fitzpatrick in Disney se The suite life of Zach and Cody. French is ʼn musiekvervaardiger.
Drew Barrymore nou ook geselsprogram-aanbieder
Die aktrise Drew Barrymore se splinternuwe geselsprogram, The Drew Barrymore Show, het Maandag gedebuteer.
Haar eerste gaste was die aktrises Cameron Diaz en Lucy Liu, Barrymore se medesterre in die fliek Charlie’s Angels. Die akteur en regisseur Adam Sandler sal glo binnekort sy verskyning in die program maak.
Die program raak ook aktuele sake aan met segmente soos “Designed by Drew” en “Drew’s News”.
Barrymore volg in die voetspore van ander bekendes soos Ellen Degeneres, Kelly Clarkson en Rachel Ray wat hulle geselsprogramme van stapel gestuur het.
Die voormalige kinderster, wat haar debuut as Hollywood-aktrise in die rolprent E.T. gemaak het, het verlede week ʼn virtuele mediakonferensie oor die program aangebied.
“Ek is nie een persoon of een bui nie. Ek is nie een ding nie,” het Barrymore aan joernaliste gesê. “Ek soek ʼn program wat al die verskillende goed waarin ons as mense belangstel, verteenwoordig.”