Hoe lyk Hollywood: Chrissy Teigen, John Legend deel hartseer nuus; Joaquin Phoenix word pa

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Chrissy Teigen, John Legend verloor baba

John Legend en sy vrou, Chrissy Teigen, en hulle kinders Luna en Miles. (Foto: Instagram)

Die sanger John Legend en sy vrou, die model Chrissy Teigen, het op Instagram aangekondig dat sy ʼn miskraam gehad het.

Die egpaar, wat reeds die ouers van twee spruite, Luna (4) en Miles (2), is, het in Augustus aangekondig dat hulle derde kind op pad is. Dié babaseuntjie sou Jack heet.

“Ons is geskok en beleef die soort diep pyn waarvan ʼn mens net hoor, die soort pyn wat ons nog nooit vantevore gevoel het nie,” het Teigen op Instagram geskryf.

Haar plasing bevat ʼn reeks swart-en-wit foto’s waarin sy intieme oomblikke in die hospitaal deel, waaronder een waar sy in ʼn hospitaalbed huil.

“Ons het vantevore nie vir ons babas name gegee tot reg voor die geboorte nie, maar om die een of ander rede het ons hierdie outjie in my maag Jack begin noem. Jack het so hard gewerk om deel te wees van ons klein familie en hy sal wees, vir altyd,” het sy geskryf.

“Jack, ek is so jammer dat die eerste oomblikke van jou lewe met soveel komplikasies gepaardgegaan het en dat ons nie vir jou die tuiste kon skep om te oorleef nie. Ons sal altyd lief wees vir jou.”

Demi Lovato, Max Ehrich verbreek verlowing

Demi Lovato. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Die sangeres Demi Lovato het haar verlowing met die akteur Max Ehrich verbreek. Dié twee het in Julie ná ʼn warrelwind-romanse van vier maande aangekondig dat Ehrich die jawoord gevra het.

Volgens berigte het Lovato die verlowing verbreek nadat sy glo besef het Ehrich probeer sy loopbaan as akteur bevorder deur haar naam te gebruik.

“Dit was vir Demi moeilik om te erken dat sy ʼn oordeelsfout begaan het wat Max betref,” het ʼn persoon na aan die sangeres aan People gesê.

“Dit het haar baie seergemaak toe sy agterkom dat Max se voornemens nie eg is nie. Om die verlowing te verbreek was nie ʼn maklike besluit nie.”

Ehrich het intussen op Instagram laat hoor dat hy deur sosiale media vasgestel het dat Lovato die verlowing beëindig het.

“Kan jy jou indink om deur sosiale media vas te stel jou verhouding is verby?” het Ehrich gevra. Lovato se verteenwoordigers ontken egter Ehrich se bewerings.

“Demi het Max duidelik daarvan bewus gemaak dat die verlowing verby is en dat dit in die media gaan uitkom.”

Joaquin Phoenix word pa

Joaquin Phoenix. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die Oscar-bekroonde Joker-akteur Joaquin Phoenix en sy verloofde, die aktrise Rooney Mara, het ouers geword van ʼn babaseuntjie.

Die Russiese rolprentmaker Victor Kossakovsky het die nuus tydens die 2020 Zurich-rolprentfees bevestig. Kossakovsky se rolprent Gunda, waarin Phoenix verskyn, is op dié fees vertoon.

Die seuntjie is vernoem na Phoenix (45) se broer, River Phoenix, wat in 1993 dood is ná ʼn oordosis dwelms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.