Hoe lyk Hollywood: ‘Coyote Ugly’-opvolg bevestig; Rebel Wilson spog met nuwe kêrel

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Coyote Ugly-opvolg bevestig

Tyra Banks (links agter) saam met Maria Bello, Bridget Moynahan, Piper Perabo en Izabella Miko. (Foto: IMDb)

Die supermodel en aktrise Tyra Banks het bevestig dat sprake van ʼn opvolg van die rolprent Coyote Ugly moontlik binnekort ʼn werklikheid sal word.

Dié fliek, met onder meer Banks, Piper Perabo en Maria Bello in die hoofrolle, is in 2000 uitgereik en het destyds $113 miljoen (nou sowat R1,8 miljard) by die loket ingevorder.

Banks (46) het Woensdag op Kelly Clarkson se geselsprogram, The Kelly Clarkson Show, gesê sy sou juis daardie dag ʼn vergadering bywoon om te gesels oor die herlewing van dié rolprent. Sy het egter nie verklap of dit ʼn rolprent of ʼn reeks gaan wees nie.

“Ons sou vandag ʼn vergadering gehad het, maar ek kan nie met hulle gesels nie want ek gesels met jou,” het Banks via ʼn Zoom-onderhoud aan Clarkson gesê.

Banks is tans te sien as aanbieder van Dancing with the Stars en is ook uitvoerende vervaardiger van die program. Sy vertel sy het destyds die rol van Zoe in Coyote Ugly losgeslaan deur op Prince se snit “Kiss” te dans.

Coyote Ugly handel oor Violet Sanford (vertolk deur Piper Perabo) wat New York toe trek om ʼn musiekloopbaan na te jaag. Om geld te verdien tot haar loopbaan op die been is, beland Violet by ʼn kroeg genaamd Coyote Ugly.

Die regte Coyote Ugly Saloon is in 1993 deur Liliana ‘Lil’ Lovett op die been gebring.

Rebel Wilson spog met nuwe kêrel

Rebel Wilson en Jacob Busch op ‘n geldinsamelingsgeleentheid in Monaco. (Foto: Instagram/Rebel Wilson)

Die Pitch Perfect-aktrise Rebel Wilson het onlangs haar verhouding met haar nuwe kêrel, Jacob Busch, met ʼn Instagram-plasing bevestig.

Volgens berigte is die paartjie smoorverlief. Wilson (40) en Busch (31) het einde September hulle rooitapyt-debuut as ʼn paartjie gemaak in Monte Carlo op ʼn gala-geleentheid in Monaco. Wilson het ook ʼn foto geplaas waar sy en Busch op dié geleentheid saam met die aktrises Helen Mirren en Kate Beckinsale in ʼn helikopter klim.

Die geleentheid is deur prins Albert II aangebied om geld vir omgewingsinisiatiewe in te samel. Wilson het later op Instagram geskryf: “Ontmoet ʼn prins met prins Charming aan my sy – wat ʼn aand om te onthou in Monaco.”

Busch se familie is die stigters van die brouery-maatskappy Anheuser-Busch. Iemand na aan die aktrise het aan People verklap dat Wilson en Busch “die perfekte pasmaats” is.

“Hy is die eerste man wat sy ontmoet het wat haar sin vir humor en persoonlikheid ewenaar. Hy het sy eie lewe en suksesse en is nie geïntimideerd deur haar nie. Hy is ʼn entrepreneur en albei het ʼn kop vir sake.”

David Foster (70), Katharine McPhee (36) verwag eersteling

David Foster en Katharine McPhee. (Foto: Chris Young/The Canadian Press via AP)

Die sangeres en aktrise Katharine McPhee (36) en haar man, die musiekvervaardiger David Foster (70), het aangekondig dat sy swanger is met hulle eersteling.

McPhee is Foster se vyfde vrou. Hy was voorheen onder meer met die sangeres Linda Thompson en die Duitse model Yolanda Hadid getroud.

Die egpaar is in Junie verlede jaar by die St. Yeghiche-kerk in Londen getroud, maar het mekaar reeds sowat 14 jaar gelede ontmoet toe McPhee aan American Idol deelgeneem het. Foster was ʼn mentor op dié program.

“Katharine wou nog altyd ʼn ma wees en saam met David ʼn baba hê,” het iemand na aan die familie aan E! News gesê.

“Hulle het nie noodwendig probeer vir ʼn baba nie, maar hulle was oop daarvoor dat dit hierdie jaar gebeur. Aangesien albei se skedules tans minder druk is, het hulle geweet vanjaar sou ʼn goeie tyd wees om dit te laat gebeur.”

Foster is ook die pa van Allison (50), Amy (47) Erin (38), Sara (39) en Jordan (34) Foster.

“Hulle het sowat ʼn maand gelede vir nabye familielede vertel [van die swangerskap] en almal was baie geskok, maar opgewonde. Erin het geskerts dat hulle kinders dieselfde ouderdom gaan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.