Hoe lyk Hollywood: Dolly Parton lees vir kinders voor; ‘Tiger King’-ster praat oor man se verdwyning

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Dolly Parton lees slaaptydstories vir kinders voor

Dolly Parton lees slaaptydstories vir kinders voor in ‘n nuwe webreeks. (Foto: Instagram/Dolly Parton)

Die eerste episode van die country-musiekikoon Dolly Parton se splinternuwe webreeks vir kinders is op Donderdag uitgesaai.

In dié nuwe reeks lees Parton slaaptydstories vir kinders voor. Die doel van die reeks is om kinders se aandag af te lei van die koronavirus (Covid-19) wat tans ʼn wêreldwye pandemie is. Gesinne in lande reg oor die wêreld is noodgedwonge agter slot en grendel in ʼn poging om die verspreiding van die virus te bekamp.

Parton se Imagination Library, wat in 1995 deur die musikant en aktrise gestig is, stuur sowat een miljoen boeke elke maand aan kinders in die VSA, Brittanje, Kanada, Australië en Ierland.

Sy het dié organisasie gestig ter ere van haar pa, aangesien Parton glo sy onvermoë om te kan lees hom gekelder het om sy drome na te jaag.

‘Gossip Girl’-aktrise swanger

Adam Brody en Leighton Meester. (Foto: Instagram/Leighton Meester)

Leighton Meester, bekend om haar rol as Blair Waldorf in die gewilde tienerdramareeks Gossip Girl, is swanger met haar tweede kind.

Hoewel die aktrise en haar man, die The OC-akteur Adam Brody, nog nie die swangerskap amptelik bekend gemaak het nie, het steelfotograwe haar duidelike bababoepie onlangs afgeneem tydens ʼn uitstappie in Los Angeles.

Die egpaar het ook ʼn vierjarige dogtertjie, Arlo.

‘Tiger King’-ster praat oor man se verdwyning

Carole Baskin. (Foto: Instagram/Carole Baskin)

Carole Baskin het onlangs weer ontken dat sy betrokke was by haar voormalige man, die miljoenêr Don Lewis, se verdwyning in 1997. Dié diereregte-aktivis en grootkatliefhebber het die verbeelding van kykers wêreldwyd aangegryp in die nuwe, opspraakwekkende Netflix-reeks Tiger King: Murder, Mayhem and Madness.

Baskin se vete met die bekende en eksentrieke tierhanteerder en ‑teler Joe Exotic, oftewel Joseph Maldonado-Passage, het gelei het tot ʼn huurmoordkomplot en het uiteindelik vir Exotic 22 jaar agter tralies besorg.

Sy het op haar grootkatskuiling, Big Cat Rescue, se webtuiste uitgevaar teen die vervaardigers van die Netflix-reeks en haar betrokkenheid by Lewis se verdwyning onomwonde ontken.

“Daar is nie woorde nie vir hoe teleurstellend dit is om te sien dat dit die hoofdoel van die reeks is om so uitlokkend en sensasioneel as moontlik te wees om kykers te trek,” het Baskin gesê.

“As deel daarvan, is daar ʼn hele segment wat daaraan toegewy is om, deur leuens en innuendo’s deur onbetroubare mense, daarop te dui dat ek ʼn rol gespeel het in die verdwyning van my man Don in 1997.”

Bronne: Good Housekeeping, E! News, Fox News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.