Hoe lyk Hollywood: Eerste lusmaker vir Bowie-fliek uitgereik; ‘Botched’-dokter gaan weer pa word

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Eerste lusmaker vir Bowie-fliek uitgereik

Johnny Flynn (links) as David Bowie en Marc Maron as Ron Oberman in die fliek ‘Stardust’.

Die eerste lusmaker vir Stardust, die rolprent wat handel oor ʼn tydperk in die lewe van die musikant David Bowie, is vandeesweek uitgereik.

Die uittreksel wys Bowie, vertolk deur die Britse akteur Johnny Flynn, in gesprek met sy publisiteitsbeampte Ron Oberman, vertolk deur Marc Maron. Die rolprent fokus op Bowie se transformasie na Ziggy Stardust in die vroeë sewentigs.

“Ek wou ʼn fliek maak oor wat iemand aanspoor om ʼn kunstenaar te word; wat hulle dryf om hulle kuns te maak,” het Gabriel Range, skrywer en regisseur van die fliek, gesê.

Stardust sou vandeesweek op die Tribeca-rolprentfees gedebuteer het. Dié fees is intussen uitgestel.

‘The Office’-akteur hou virtuele afskeidsdans vir hoërskoolleerders

John Krasinski en sy vrou, die aktrise Emily Blunt. (Foto: Instagram/John Krasinsky)

Met die Covid-19-pandemie wat jong mense in hul huise en uit die skool hou, het die akteur John Krasinski besluit om ʼn plan te beraam vir leerders wat hulle afskeidsdanse, oftewel “proms” soos dit in die VSA heet, vanjaar gaan misloop.

Dié akteur in die TV-reeks The Office en eggenoot van die aktrise Emily Blunt, het aangekondig hy gaan op sy Some Good News YouTube-kanaal ʼn virtuele dans aanbied. Die doel van dié kanaal is om “goedvoel”-oomblikke te deel in ʼn tyd van nood. Dié akteur gebruik gereeld die platform om na ander uit te reik.

“Dis reg, klas van 2020. Ek en ʼn paar vriende gaan hierdie Vrydag platejoggie speel vir jou matriekdans,” het hy gesê.

Hy het ook ʼn foto van homself by sy eie afskeidsdans gedeel met die onderskrif: “Eerstens, jy is welkom. Tweedens, ek kan dit nie uitstaan dat soveel van julle jul danse gaan misloop nie. Kom ons doen iets daaromtrent!”

‘Botched’-dokter gaan weer pa word

Brittany en dr. Paul Nassif. (Foto: Instagram/Paul Nassif)

Dr. Paul Nassif, die bekende plastiese chirurg van die gewilde E! Entertainment-reeks Botched, gaan vir die vierde keer pa word.

Nassif (57) se vrou, Brittany (29), is swanger met hul eerste kind. Die egpaar is ses maande gelede getroud.

Die swangerskap is Woensdag op Nassif se Instagram-rekening aangekondig met ʼn sonarfoto. “Ek is so opgewonde en geseënd om aan te kondig dat ek en my vrou ʼn nuwe lewe in die wêreld bring,” het hy gekoer. Hy het bygevoeg dat die geslag van die baba ʼn verrassing gaan bly tot die geboorte.

“Oktober kan nie gou genoeg kom sodat ek my eerste dogtertjie of my vierde seun gaan ontmoet nie. Al wat ek weet is dat ek my doekruilvaardighede sal moet opskerp,” het hy geskryf.

Bronne: Variety.com, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.