Hoe lyk Hollywood: Enrique, Anna deel rare foto’s van tweeling; ‘Star Wars’-akteur sterf

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Enrique, Anna deel rare foto’s van tweeling

Enrique Iglesias en Anna Kournikova in Florida in 2009. (Foto: Al Bello/Getty Images/AFP)

Die voormalige Russiese tenniskampioen Anna Kournikova (39) het Woensdag rare foto’s van haar en die popsanger Enrique Iglesias (45) se tweeling, Nicholas en Lucy, op Instagram gedeel ter viering van hulle derde verjaarsdag.

Die egpaar het in 2001 ontmoet op die stel van sy musiekvideo vir die liedjie “Escape”, waarin Kournikova verskyn het. Hulle woon tans in Miami, Florida. Ondanks talle gerugte het die paartjie nog nooit bevestig of hulle getroud is nie.

Iglesias vertrek in 2021 op ʼn toer na die VSA en Kanada saam met die popsanger Ricky Martin. “Ek kan nie méér opgewonde wees om weer die pad te vat om julle te sien nie,” het Iglesias in Julie vanjaar op Instagram geskryf.

Kournikova en Iglesias het ook ʼn dogtertjie, Mary, wat in Januarie vanjaar gebore is.

Star Wars-akteur sterf

Jeremy Bulloch. (Foto: IMDb/People)

Jeremy Bulloch, die akteur wat die rol van Boba Fett in die oorspronklike Star Wars-trilogie vertolk het, het in die ouderdom van 75 gesterf.

Volgens sy agent is hy Donderdag in die hospitaal oorlede weens komplikasies met Parkinson se siekte waarmee hy jare lank saamgeleef het.

“Hy het ʼn lang en gelukkige loopbaan gehad wat oor meer as 45 jaar gestrek het,” lui ʼn verklaring.

“Hy was toegewyd aan sy vrou, drie seuns en tien kleinkinders en hulle sal hom ongelooflik baie mis.”

Bulloch was welbekend vir sy rol as Boba Fett in The Empire Strikes Back en The Return of the Jedi. Sy karakter het sedertdien in ʼn tweede seisoen van ʼn Star Wars-opvolgreeks, The Mandalorian, verskyn.

Bulloch het ook in 1983 in die James Bond-fliek Octopussy verskyn en was in die 1970’s in die BBC-reeks Doctor Who te sien.

Daniel Logan, die akteur wat die rol van Boba Fett in 2012 by Bulloch oorgeneem het vir die fliek Star Wars: Episode II – Attack of the Clones, het op Instagram hulde aan Bulloch gebring.

“Rus in vrede, legende. Ek sal nooit vergeet wat jy my alles geleer het nie. Ek sal altyd lief wees vir jou,” het Logan geskryf.

George Lucas, skepper van Star Wars, het na Bulloch verwys as “ʼn ware heer” terwyl Mark Hamill, wat die rol van Luke Skywalker teenoor Bulloch vertolk het, hom as “die wesenlike Engelse heer” beskryf het.

“ʼn Meesterlike akteur, genotvolle geselskap en so gaaf met almal wat gelukkig genoeg was om hom te ontmoet en saam met hom te werk. Ons sal diep na hom verlang en is so dankbaar om hom te kon ken,” het Hamill op Twitter geskryf.

Die nuus volg kort nadat Dave Prowse, die Britse akteur agter die dreigende swart masker van die Star Wars-skobbejak Darth Vader, in November in die ouderdom van 85 oorlede is.

The Morning Show staak produksie weens Covid-19-geval

Jennifer Aniston en Reese Witherspoon in ‘The Morning Show’. (Foto: IMDb)

Die verfilming van die boeiende dramareeks The Morning Show, met Jennifer Aniston, Reese Witherspoon en Steve Carell in die hoofrolle, is gestaak nadat ʼn spanlid positief getoets het vir die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak.

Die Emmy-bekroonde reeks het in Maart vanjaar aan die tweede seisoen begin skiet, maar moes produksie staak weens die Covid-19-pandemie. Die verfilming is in Oktober weer hervat.

The Morning Show vertel die verhaal van ʼn nuusprogramaanbieder wie se loopbaan in gedrang kom wanneer haar mede-aanbieder van seksuele wangedrag op die stel van hulle ontbytprogram beskuldig word.

Daarna word ʼn hele nes van wangedrag en wanbestuur oopgekrap en talle lede van die program se produksiespan word by die skandaal betrek.

Aniston en Witherspoon is ook uitvoerende vervaardigers van die reeks. Dit is een van AppleTV+ se eerste produksies. Joanna Margulies van The Good Wife-faam, Greta Lee, Ruairi O’Connor en Hasan Minjah sal in die tweede seisoen te sien wees.

Bronne: BBC, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.