Hoe lyk Hollywood: ‘Fresh Prince’ in Namibië; rocksanger aangekla

Maroela Media bring vir jou ‘n opsomming van vandeesweek se jongste internasionale vermaaknuus.

‘Fresh Prince’ skiet program in Namibië

Will Smith verlede jaar op die première van Bad Boys For Life in Madrid, Spanje. (Foto: Gabriel Bouys/ AFP)

Die Amerikaanse rolprentster Will Smith (54) het vandeesweek in Namibië geland om die tweede seisoen van die National Geographic-program One Strange Rock te skiet.

Volgens The Namibian Sun het die akteur Dinsdag in dié Afrikaland aangekom. Nog ʼn Namibiese publikasie, Informante, het berig die akteur sal binne die bestek van tien dae die bekendste bakens in die land besoek.

Die bekroonde The Fresh Prince of Bel-Air-akteur gaan glo in ʼn hotel in Swakopmund tuis terwyl die program geskiet word.

One Strange Rock word deur Darren Aronofsky en Jane Root vervaardig. Die eerste seisoen het die kwesbaarheid van die aarde in ʼn minireeks ondersoek.

The Namibian berig dat Florence Haifene van die Namibiese Rolprentraad bevestig het dat ʼn permit uitgereik is vir die produksie en dat Namib Films die plaaslike fasiliteerder is.

Rocksanger van seksuele mishandeling aangekla

Evan Rachel Wood en Marilyn Manson in 2007. (Foto: Scott Wintrow/Getty Images North America/AFP)

Die Amerikaanse rocksanger Marilyn Manson word deur ʼn groep vroue daarvan beskuldig dat hy hulle onder meer seksueel voorberei en mishandel het.

Manson (52), wie se regte naam Brian Warner is, het glo die aktrise Evan Rachel Wood (33) as tiener seksueel voorberei en mishandel. Wood het vroeg Maandagoggend dié aantygings op sosiale media gemaak.

“Die naam van my mishandelaar is Brian Warner, ook bekend aan die wêreld as Marilyn Manson. Hy het my begin voorberei as tiener en my jare lank verskriklik mishandel. Ek is gebreinspoel en gemanipuleer om onderdanig te wees,” het sy geskryf.

“Ek is klaar daarmee om in vrees vir wraakneming, naamskending of afpersing te leef. Ek is hier om hierdie gevaarlike man se dade aan die lig te bring.”

Ten minste vier ander vroue het met dieselfde beskuldigings na vore gekom en het in ontstellende besonderhede vertel van die seksuele aanranding, psigologiese mishandeling en ander vorme van dwang, geweld en intimidasie waaronder hulle gely het.

Die nagevolge van die bewerings was intussen verreikend vir Manson: Sy ooreenkomste met die platemaatskappy Loma Vista en die Hollywood-talentagentskap CCA is onder meer beëindig.

Hy is ook van die Starz-produksie American Gods afgeskop en die jongste episodes word nou verwerk om hom uit te sluit. Manson het ʼn herhalende rol in dié reeks gehad.

Wood het gesê sy het Manson ontmoet toe sy 18 en hy 36 was. Manson en Wood was van 2007 tot 2010 ʼn paartjie. Hulle het in 2010 verloof geraak, maar het die verlowing dieselfde jaar nog verbreek.

Sy het in 2018 in die hof getuig in ʼn poging om die Sexual Assault Survivors’ Bill of Rights te laat slaag in al 50 state in die VSA.

Marilyn Manson verlede jaar op die Vanity Fair Oscar-partytjie in Beverly Hills. (Foto: Frazer Harrison/Getty Images/AFP)

In ʼn onderhoud met Spin in 2009 het Manson oor Wood gesê: “Ek het elke dag fantasieë oor hoe ek haar skedel met ʼn voorhamer vergruis.” Hy het intussen gesê die opmerking was “duidelik ʼn teatrale rockster wat tydens ʼn onderhoud ʼn nuwe album bemark en nie feite weergegee het nie”.

Manson, wat verlede jaar sy jongste album We Are Chaos uitgereik het, het die bewerings ontken en het sy kant van die saak op sosiale media gestel. “My kuns en my lewe is lankal magnete vir omstredenheid, maar hierdie onlangse bewerings oor my is ʼn aaklige verdraaiing van die werklikheid.

“My intieme verhoudings was nog altyd heeltemal eensgesind [met mense wat dieselfde denkwyse het as ek]. Ongeag van hoe – of hoekom – ander nou kies om ʼn wanvoorstelling van die verlede te maak, dit is die waarheid.”

Manson het verlede jaar in ʼn onderhoud met die akteur Nicolas Cage onthul dat hy tydens ʼn private seremonie gedurende die Covid-19-pandemie getroud is. Sy vrou is later as Lindsay Usich geïdentifiseer nadat sy haar naam op sosiale media na Lindsay Elizabeth Warner verander het.

Hy is die peetpa van Johnny Depp se dogter, Lily-Rose. Depp (57) was self verlede jaar in die sop toe sy eksvrou, die aktrise Amber Heard, aangevoer het dat Depp haar aangerand het terwyl hulle getroud was.

Depp se aansoek om te appelleer teen ʼn uitspraak deur die hooggeregshof wat beslis het dat hy wel vir Heard aangerand het, is in November afgekeur.

Regter Andrew Nicol het Depp skuldig bevind daaraan dat hy Heard (34) “op dosyne geleenthede aangerand en haar drie keer laat vrees het vir haar lewe”.

Depp daag nou dié beslissing uit en sy aansoek vir toestemming om daarteen te appelleer sal in Maart aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

Ek sou graag vir Mr. Wood in die ou SA weermag (70’s en 80’s) op ‘n paradegrond met ‘n vol sandsak wou ontmoet het…..sou bietjie “houding” in die man geinstalleer het.

Johan ·

Hierbo is net fotos van vrouens, waar is die foto van Manson?

Elsabe ·

Hoe op dees aarde vertrou jy jou dogter toe aan hierdie mens? Sekerlik het jy geweet hy is nie opreg nie.

Elsabe ·

Eerstens, hoe knoop jy ‘n verhouding aan met ‘n man wat lyk of hy in die make-up potte van Egipte geval het? Hy kan mos nie normaal manlik wees nie. Ek het geweldig simpatie met dames wat mishandel word. Sommige het net nie die geleentheid / fondse / wat-ook-al om uit so ‘n verhouding te ontsnap nie. Onthou, mishandelaars, manlik of vroulik, se ware kleure kom eers later na vore. Maar as jy die wereld se fondse in jou beursie het, pak op en stap uit. En as hy jou agterna treiter, kap hom met die gereg. Skiet hom met ‘n rocket terug Pluto toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.