Hoe lyk Hollywood: ‘Full House’-ster pleit skuldig in posbedrogsaak; Sia neem twee tieners aan

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Megan Fox, 90210-akteur skei

Megan Fox en Brian Austin Green. (Foto: AP)

Die smeulende aktrise Megan Fox en haar man, die Beverly Hills 90210-akteur Brian Austin Green, se paaie gaan skei ná ʼn huwelik van bykans ʼn dekade.

Green het die nuus in sy podsending “… With Brian Austin Green” bevestig en gesê hy en die Transformers-aktrise “probeer om apart te wees”.

Green (46) en Fox (34) se probleme het glo reeds einde verlede jaar begin toe Fox die VSA verlaat het om te werk aan die rolprent Midnight in the Switchgrass saam met die 30-jarige kletsrymer Machine Gun Kelly, wie regte naam Richard Colson Baker is.

Volgens Green het dinge nie verbeter nadat Fox teruggekeer het nie en het sy glo aan hom gesê sy voel meer soos haarself wanneer sy op haar eie is.

Die egpaar het drie seuns, Journey River (3), Bohdi Ransom (6) en Noah Shannon (7). Hulle het begin uitgaan toe hulle op die stel van die ABC-komediereeks Hope & Faith ontmoet het. Hulle is in 2010 in Hawaii getroud.

Full House-ster pleit skuldig in posbedrogsaak

Mossimo Giannulli en Lori Loughlin. (Foto: AP Photo/Steven Senne, File)

Die aktrise Lori Loughlin, bekend om haar rol in die komediereeks Full House, en haar man, Mossimo Giannulli, gaan volgens die Amerikaanse staatsaanklaer skuldig pleit op die samesweringsklagte om posbedrog te pleeg.

Dié klagte kom nadat die egpaar se dogters, Olivia Jade en Bella, hulself as atlete voorgedoen het en op ʼn bedrieglike wyse toelating tot die Universiteit van Suid-Kalifornië verkry het.

Volgens Loughlin se pleitooreenkoms sal sy twee maande agter tralies deurbring, ʼn boete van $150 000 betaal en 100 ure gemeenskapsdiens verrig. Giannulli sal vyf maande tronk toe gaan, ʼn boete van $250 000 betaal en 250 ure van gemeenskapsdiens verrig.

Sia neem twee tieners aan

Sia. (Foto: Instagram)

Die Australiese sangeres en liedjieskrywer Sia (44) het vandeesweek onthul dat sy twee tienerseuns aangeneem het.

Albei die seuns is 18 jaar oud.

“Hulle het verskriklike traumatiese lewens gehad en ek het die hulpbronne om hierdie twee seuns aan te neem,” het Sia op die Kyle and Jackie O-radioprogram gesê.

“Ek is werklik obsessief oor die gehegtheidsteorie, wat ʼn styl van sielkunde is wat ek bestudeer. Ek het besluit dat ek moontlik kan help met gehegtheidsherstel, want dit is wat ek die afgelope vyf jaar doen en waaroor ek leer,” het die “Cheap Thrills”-sangeres gesê.

“Albei hierdie seuns het in omtrent 18 huise gewoon in hul 18 jaar en het nooit enige stabiliteit geken nie.”

Sy het bygevoeg dat om “nuut ryk” te wees, is “werklik vreemd en pret” en dat dit haar geleenthede bied soos om ander te help.

“Dit beteken ek kan baie mense se drome bewaarheid, wat die beste gevoel ooit is.”

Bronne: Global News, E! News, Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.