Hoe lyk Hollywood: George Clooney gehospitaliseer; Taylor verras met nog ʼn album

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Taylor verras met nog ʼn album

Taylor Swift op die stel van die nuwe musiekvideo vir “Willow”. (Foto: Max Wagner)

Die musikant Taylor Swift het pas nog ʼn verrassingsalbum uitgereik.

Swift het in Julie vanjaar tydens die wêreldwye inperking weens die Covid-19-pandemie aanhangers reeds met ʼn splinternuwe indie-folkrock-album getiteld Folklore verras.

Die jongste album heet Evermore en Swift beskryf dit as die “susteralbum” van Folklore. Folklore is vir talle gesogte toekennings benoem, onder andere ses Grammy-toekennings. Evermore bevat 17 snitte.

“Ons kon net nie ophou skryf nie,” sê Swift.

“Ek het dit nog nooit vantevore gedoen nie. In die verlede het ek altyd albums as eras op hulle eie hanteer en dan aanbeweeg na die beplanning van die volgende album nadat die vorige een uitgereik is.

“Daar was egter iets anders omtrent Folklore. Terwyl ons dit gemaak het, het ek minder gevoel asof ek vertrek, maar meer asof ek terugkeer. Ek is mal oor die ontvlugting wat ek in hierdie denkbeeldige verhale vind.”

ʼn Splinternuwe musiekvideo vir die liedjie “Willow”, wat in Evermore verskyn, is ook pas uitgereik.

George Clooney gehospitaliseer

George Clooney. (Foto: Willy Sanjuan/Invision/AP, File)

Die hartebrekerakteur George Clooney (59) is onlangs gehospitaliseer net voordat hy aan sy nuwe Netflix-rolprent, The Midnight Sky, begin skiet het.

E! News het bevestig die akteur is met pankreatitis gediagnoseer en gehospitaliseer nadat hy maagpyne gekry het net voordat die kameras begin rol het vir die wetenskapfiksiefliek waarvan Clooney ook die regisseur is.

Vir sy nuwe rol het die akteur drasties gewig verloor en skryf sy siektetoestand hieraan toe. “Ek dink ek het te hard en te vinnig gewig probeer verloor en het nie na myself omgesien nie,” het Clooney aan The Mirror gesê. Volgens berigte het die Oscar-wenner sowat 13 kg afgeskud.

The Midnight Sky handel oor Augustine Lofthouse, ʼn astrofisikus wat ʼn span ruimtevaarders moet oortuig om nie terug te keer aarde toe nie, se stryd teen kanker. Om in karakter te kom vir die rol, het die Gravity-ster besluit om drasties gewig te verloor.

Clooney het intussen ten volle herstel.

Morgan en Jordan haak af

Jordan McGraw en Morgan Stewart op hulle troudag. (Foto: Instagram/Morgan Stewart McGraw)

Die E! News Nightly Pop-aanbieder Morgan Stewart en Jordan McGraw, sanger en seun van die bekende sielkundige en televisiepersoonlikheid Dr. Phil, is Woensdag tydens ʼn private seremonie getroud.

Die nuus is op Instagram bevestig met troufoto’s. Die paartjie het in Julie vanjaar verloof geraak en verwag hulle eersteling – ʼn dogtertjie.

Stewart (32) en McGraw (34) is reeds langer as ʼn dekade goeie vriende en het voorheen uitgegaan. Stewart het in Augustus verlede jaar aangekondig dat sy en haar eksman, die sakeman Brendan Fitzpatrick, se paaie gaan skei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.