Hoe lyk Hollywood: Harry en Meghan teken Netflix-kontrak; Robin Williams-dokkie delf in demensie

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Harry en Meghan teken Netflix-kontrak

Harry en Meghan. (Foto: Instagram)

Prins Harry en sy vrou, Meghan, wat sowat ses maande gelede teruggetree het as senior lede van die Britse koninklike familie en na Los Angeles in die VSA verhuis het, het nou ook hulle eerste kontrak as Hollywood-vervaardigers vir Netflix losgeslaan.

Dié bloubloed-egpaar sal inhoud “wat opvoed maar ook hoop skep” vir dié wêreldbekende stromingsdiens vervaardig.

“As nuwe ouers is dit vir ons belangrik om inspirerende inhoud ook te skep,” het Harry en Meghan in ʼn gesamentlike verklaring gesê. Hulle seun, Archie, het in Mei vanjaar sy eerste verjaarsdag gevier.

Die egpaar se produksiemaatskappy, wat nog nie ʼn naam het nie, sal onder meer dokumentêre reekse, speelfilms en kinderprogramme vervaardig.

Hoewel Harry en Meghan in dokumentêre programme sal verskyn, het sy volgens ʼn verteenwoordiger geen planne om terug te keer na toneelspel nie. Sy het bekendheid verwerf as aktrise vir haar rol as Rachel Zane in die reeks Suits.

Daar is ook nog geen aanduiding van hoeveel inkomste die paartjie uit die kontrak met Netflix sal verhaal nie. Netflix het sowat 193 miljoen intekenaars wêreldwyd.

Fresh Prince-reünie aangekondig

Die vervaardigers van The Fresh Prince of Bel-Air het aangekondig dat die rolverdeling van dié gewilde reeks uit die negentigerjare ʼn spesiale reünie-episode sal opneem.

Die episode sal na verwagting op 10 September verfilm word en later vanjaar te sien wees op HBO Max. Daar is al jare lank sprake van ʼn reünie, maar dit is die eerste keer dat dit amptelik bevestig is.

Akteurs soos Will Smith, Tatyana Ali, Karyn Parsons, Joseph Marcell, Daphne Maxwell Reid, Alfonso Ribeiro en DJ Jazzy Jeff sal saam met ʼn paar spesiale gaste te sien wees.

“Dit was my heel eerste rol en ek was baie gefokus daarop om suksesvol te wees, so ek het die hele draaiboek geleer saam met al die ander akteurs se woorde. As jy die eerste vyf episodes kyk, sal jy sien hoe ek almal se woorde saam met hulle sê. Dit is aaklig en ek kan nie daarna kyk nie,” het Smith in ʼn onderhoud met Graham Norton gesê.

Die reeks is oorspronklik van 1990 tot 1996 vir ses seisoene uitgesaai.

Robin Williams-dokumentêr delf in demensie-diagnose

Robin Williams. (Foto: nowyouknowthis.com)

In ʼn nuwe dokumentêr oor die lewe van die akteur en komediant Robin Williams, getiteld Robin’s Wish, gesels regisseur Tyler Norwood met die akteur se familie en vriende vir dieper insig oor dié geliefde akteur wat in 2014 sy eie lewe geneem het.

Sy vrou, Susan Schneider, het ʼn jaar ná sy dood in ʼn onderhoud met Good Morning America onthul dat sy familie oortuig was hy ly aan depressie, maar dat sy outopsieverslag aangedui het dat hy aan ʼn soort demensie gely het.

Sy gesels in die dokumentêr oor dié siekte wat uiteindelik die akteur se liggaam afgetakel en toneelspel onmoontlik gemaak het. Norwood het ook met mediese kundiges gesels vir meer inligting oor dié siekte.

Ten tyde van sy dood was Williams egter steeds in die kollig, besig met rolprente, televisiereekse en komedie.

Die dokumentêr is op iTunes beskikbaar.

Bronne: Vanity Fair, The New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Soms wonder ek of ou Prins Harry werklik gelukkig is waar hy nou is ? Moontlik dryf hy maar net saam soos ‘n stokkie in ‘n stroom op pad oseaan toe. Lyk nie asof hy die groot besluitnemer in daardie huwelik is nie

Inkpot ·

Haar familie noem haar nie verniet ‘n manipuleerder nie.
Sy het nie genoeg aandag gekry in Engeland nie. Daar was sy net ‘n aangetroude lid van die koninklike familie en het ook nie daar ingepas nie. Daar is ‘n duidelike verskil tussen haar en Kate wat ingebore waardigheid het.

Inkpot ·

So, hulle het toe tog nie uit die openbare oog en kollig getree nie.
Daar gaan hulle privaatheid waarop hulle so besorg was in Brittanje ook.
Arme Harry!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.