Hoe lyk Hollywood: ‘Harry Potter’-ster spog met baba; ‘Emily in Paris’ word hernu

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘Emily in Paris’ kry tweede seisoen  

Lily Collins in ‘Emily in Paris’. (Foto: IMDb/Netflix)

Die vervaardigers van die uiters gewilde Netflix-reeks Emily in Paris het pas ʼn tweede seisoen van dié reeks aangekondig.

Die reeks het minder as twee maande gelede op die stromingsdiens gedebuteer en het bykans onmiddellik een van dié diens se gewildste reekse geword.

Die aktrise Lily Collins (31) vertolk die rol van Emily Cooper, ʼn jong Amerikaanse bemarkingsghoeroe wat ʼn werksgeleentheid in Parys, Frankryk, aanvaar.

Collins is die dogter van die Engelse musikant Phil Collins. Die reeks is geskep deur Darren Star en speel hoofsaaklik in Parys af.

Die nuus van die tweede seisoen is aangekondig deur ʼn fiktiewe, tong-in-die-kies brief van Emily se Paryse werkgewer, Silvie Grateau (vertolk deur Philippine Leroy-Beaulieu) aan haar Amerikaanse baas, Madeline Wheeler (gespeel deur Kate Walsh).

In dié brief stel Grateau vir Wheeler in kennis dat Emily “ʼn lang tydperk” in Parys gaan aanbly.

‘Harry Potter’-ster spog met baba

Rupert Grint. (Foto: Instagram)

Rupert Grint, die Harry Potter-ster wat bekend is vir sy rol as Harry se rooikop-regterhand, Ron Weasley, is die jongste bekende om ʼn profiel op Instagram te skep.

Hy het ook in sy eerste plasing die naam van sy babadogtertjie bekend gemaak. Sy is reeds ses maande gelede gebore.

“Hey Instagram [sic], net tien jaar laat, maar hier is ek om julle bekend te stel aan my dogtertjie, Wednesday G Grint.”

Grint (32) en sy meisie, Georgia Groome, het in Mei die geboorte van hulle dogtertjie aangekondig. Terwyl die ster eerder sy persoonlike lewe privaat hou, blyk dit dat hy opgewonde is daaroor om deel te wees van Instagram. Slegs ure nadat hy by die platform aangesluit het, het hy meer as 1 miljoen volgelinge gekry.

Aanbieder (80) van gewilde speletjiesprogram sterf

Alex Trebek. (Foto: Instagram)

Alex Trebek, aanbieder van 37 seisoene van die gewilde Amerikaanse speletjiesprogram Jeopardy!, is Sondag in die ouderdom van 80 oorlede.

Trebek het die afgelope jaar aan pankreaskanker gely. Volgens berigte het Trebek “vreedsaam gesterf”, omring deur sy familie en naaste vriende.

Sy vrou, Jean, het in ʼn roerende huldeblyk aan Trebek op sosiale media ook ʼn foto van hul troudag in 1990 gedeel. Die egpaar het twee kinders, Matthew en Emily.

Die foto wat Jean Trebek van haar en Alex se groot dag gedeel het. (Foto: Instagram)

“Ek en my familie bedank almal opreg vir jul boodskappe van medelye en vrygewigheid. Dit raak ons harte werklik. Baie dankie,” het Jean geskryf.

Nicky Trebek, Trebek se aangenome dogter uit sy eerste huwelik, het ʼn foto van gebedskerse gedeel ter nagedagtenis aan haar pa.

Mike Richards, uitvoerende vervaardiger van Jeopardy!, het die aanbieder se dood as “ʼn enorme verlies” bestempel.

“Hy was lief vir hierdie program en alles wat dit verteenwoordig. Hy sal altyd ʼn inspirasie wees met sy konstante begeerte om te leer, sy vriendelikheid en sy liefde vir sy familie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.