Hoe lyk Hollywood: Jonas-broer word pa, ‘Bachelor’ dalk verlief op vervaardiger

Joe Jonas en Sophie Turner (Foto: Instagram)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Joe Jonas en Sophie Turner verwag eerste pienkvoet

Die middelste lid van die Jonas Brothers, Joe Jonas (30), en sy vrou, die Game of Thrones– aktrise Sophie Turner (23), verwag hul eerste kind.

E! Online het berig dat talle bronne al die nuus bevestig het.

Joe en Sophie het in Mei 2019 ʼn kitstroue in Las Vegas gehad, en ʼn maand later ʼn tradisionele seremonie in Frankryk.

Die paartjie het nog nie self die nuus op sosiale media gedeel nie, en was verlede maand by die Grammy-toekennings laas saam in die publiek opgemerk.

Peter Weber en Julie LaPlaca (foto: Instagram)

The Bachelor-teorie oor vervaardiger

The Bachelor-aanhangers was vandeesweek geskok toe ’n teorie oor vanjaar se Bachelor Pilot Pete na vore kom.

Dié teorie behels dat Peter Weber nie een van sy twee finaliste aan die einde van die seisoen gaan kies nie, maar dat hy eerder vir Julie LaPlaca, een van die vervaardigers van die program, gaan val.

Dié teorie het ontstaan nadat aanhangers begin agterkom het dat Pete en Julie baie tyd saam deurbring en dat Julie ook Nuwejaar saam met Pete en sy familie gevier het.

Die aanbieder van die program, Chris Harrison, het ook vroeër kommentaar oor die seisoen gelewer wat aanhangers laat glo dié teorie kan dalk waar wees.

“Hierdie seisoen is werklik nie soos enige ander nie. Jy sal régtig nie kan weet hoe dit gaan eindig tot die laaste oomblikke nie,” het hy gesê.

In ʼn foto wat Julie van haar in New York City op Instagram geplaas het, kan Peter in die agtergrond gesien word. Hannah Brown, die voormalige Bachelorette wat Peter se hart gebreek het, het op dié foto kommentaar gelewer deur te skryf: “Hierdie is baie oulik Julie. Ek keur dit goed.”

Enrique Iglesias en Anna Kournikova (Foto: Instagram)

Enrique Iglesias en Anna Kournikova verwelkom derde kind

Die popster Enrique Iglesias (44) en die voormalige tennisspeler Anna Kournikova (38) het op 30 Januarie ʼn dogtertjie ryker geword.

Dié paartjie, wat al sedert 2001 in ʼn verhouding is, het reeds twee ander kinders, ʼn tweeling, Lucy en Nicholas (2).

Iglesias het dié blye nuus Donderdag op Twitter gedeel met ʼn foto van homself wat die pasgebore baba vashou. Daarby het hy geskryf “My sonskyn”.

Kournikova het op haar beurt ook ʼn foto op Twitter gedeel van die pienkvoet wat op haar bors lê met dieselfde onderskrif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.