Hoe lyk Hollywood: Kelly Clarkson skei; musiekgroep verander naam

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Kelly Clarkson skei

Kelly Clarkson en Brandon Blackstock by die Grammy-toekenningsgeleentheid in 2018. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Die gewilde Amerikaanse popsangeres Kelly Clarkson (38) en haar man, Brandon Blackstock, se paaie gaan ná ʼn huwelik van sewe jaar skei.

Clarkson bied tans haar eie geselsprogram, The Kelly Clarkson Show, aan en is ʼn mentor vir die gewilde talentsoekprogram The Voice. Blackstock is ʼn musiekbestuurder wat bekendes soos die country-sanger Blake Shelton verteenwoordig.

Volgens CNN het Clarkson op 4 Junie aansoek gedoen om te skei en het sy “onversoenbare verskille” as die rede vir die egskeiding aangevoer. Clarkson het ook aansoek gedoen om toesig oor hul twee kinders, River Rose (5) en Remington Alexander (4), met Blackstock te deel.

Clarkson se aanhangers is geskok oor dié nuus aangesien sy onlangs op sosiale media gedeel het dat sy en Blackstock die afsonderingstydperk saam met hulle twee kinders asook sy twee tienerkinders, Seth (13) en Savannah (18), op haar beesplaas in Montana in die VSA deurbring.

“Dit is ʼn baie mooi plaas en dit is ʼn lekker wegkomplek vir ons gesin,” het Clarkson nog op 31 Maart in ʼn YouTube-video gesê. “Dit is iets waaroor ek en Brandon gedroom het as kinders. Dit is wat ons ‘huis’ noem.”

Musiekgroep verander naam oor konnotasie met slawerny

Lady Antebellum. (Foto: Facebook)

Die Grammy-bekroonde musiekgroep Lady Antebellum se naam is amptelik verander na Lady A as gevolg van konnotasies wat die woord “antebellum” met slawerny het.

Die woord wat “vooroorlogse” beteken verwys na die periode voor die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865), soos byvoorbeeld na die argitektuur in die Amerikaanse Suide.

“Ons oë het oopgegaan oor die onreg en ongelykheid wat swart mans en vroue nog altyd ervaar het en ons het bewus geraak van blindekolle waarvan ons nie eens geweet het nie,” lui ʼn verklaring deur die groep op Twitter.

Die groep, oorspronklik van Nashville in die VSA, sê die keuse vir die naam het gespruit uit dié argitektoniese styl nadat hulle 14 jaar gelede hulle eerste groepfoto voor ʼn huis in dié styl geneem het.

“Dit het ons herinner aan die musiek van die Suide waardeur ons beïnvloed is. Maar ons is spyt en skaam ons om te sê ons het nie die assosiasie wat die woord met slawerny het in ag geneem nie.

“Ons is jammer vir die seer wat dit veroorsaak het en vir enigiemand wat onveilig of onsigbaar gevoel het. Dit was nooit ons bedoeling om seer te maak nie, maar dit verander nie die feit dat dit presies dit gedoen het nie.”

Die lede van die groep het ook gesê hulle het die besluit om hul naam te verander geneem ná vele gesprekke met hul naaste swart vriende en kollegas.

Dié naamsverandering kom nadat die Britse platemaatskappy One Little Indian sy naam verander het na One Little Independent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ameli ·

Ag regtig red n volk en nasie. Net so jammer!! Dit als gaan nou oor die ou George Floyd storie. Nou is almal sopperig. Lady A gmf

Gawie ·

Ag nee wraggies – politieke korrektheid raak nou heel onsinnig. Om te verwys na ‘n boustyl of tydperk beteken mos nie jy keur alles goed wat in daardie tyd gebeur het nie? Gaan ons nou ook nie meer mag verwys na Art-Deco nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.