Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.
Bekende kulkunsduo se Siegfried sterf
Siegfried Fischbacher, een lid van die kulkunstenaarsduo bekend as Siegfried & Roy, is in Las Vegas in die ouderdom van 81 aan pankreaskanker dood. Sy publisiteitsbeampte en familie het Donderdag die nuus bevestig.
Die Duits gebore kulkunstenaar is Woensdagaand dood slegs agt maande ná sy verhoogmaat, Roy Horn, se dood weens Covid-19-komplikasies.
Die paar wie se vennootskap oor vyf dekades gestrek het, het in die laat 1960’s in Las Vegas begin optree. Hulle het huishoudelike name geword met meer as 5 000 uitverkoopte vertonings in die Mirage Casino Hotel. Dié vertonings het wit tiere, wit leeus, luiperds, jaguars en selfs ʼn olifant ingesluit.
“’n Vertoonkunstenaar en ʼn ware heer, altyd,” het Dave Kirvin, Siegfried se publisiteitsbeampte in Las Vegas, gesê.
Siegfried is op die paar se uitgestrekte Little Bavaria-landgoed in Las Vegas dood, het sy suster Delore, ʼn non wat in München woon, aan die Duitse koerant Bild gesê.
Die duo se vertonings het in 2003 tot ʼn skielike en gewelddadige einde gekom toe Roy van die verhoog af gesleep is deur ʼn wit tier van 180 kg en ernstig beseer is.
Hoewel hy herstel het, het die hoogs winsgewende Las Vegas-vertonings nooit weer voortgegaan nie.
Roy, wat ook ʼn beroerte en gedeeltelike verlamming gehad het ná dié insident, het altyd volgehou die ongeluk was nie die wit Siberiese tier se skuld nie.
Siegfried en Roy het nog een optrede gehad in 2009 en het in 2010 amptelik uit die vermaakbedryf getree.
Siegfried is in 1939 in die Bavariese stad Rosenheim gebore en het van jongs af sy oog op ʼn loopbaan as illusionis gehad nadat hy ʼn boek oor kulkuns in ʼn boekwinkel ontdek het op die ouderdom van agt.
Mick Fleetwood verkoop opnames aan BMG
Mick Fleetwood, stigterslid van die groep Fleetwood Mac, het sy aandeel in die groep se arsenaal van opnames aan die musiekmaatskappy BMG verkoop.
Die ooreenkoms sluit albums soos Rumours, Tango in the Night en Tusk in en verteenwoordig 300 liedjies, of “18 ure se tromspel”, het BMG gesê.
Dit volg nadat Fleetwood Mac se 1977-enkelsnit “Dreams” onlangs soos ʼn veldbrand op TikTok versprei het en sowat 2,8 miljard trefslae gehad het.
Die groep se grootste versameling treffers van die laaste 50 jaar, Don’t Stop, het ook verlede jaar die tiende meeste albumverkope in Brittanje gehad.
Fleetwood is die stukrag agter die groep, wat ook sy naam dra. In die vroeë dae was hy die groep se bestuurder sowel as tromspeler, en het hy musikante aangestel en afgedank soos wat hulle treffers soos “Albatross” en “Man of the World” gemaak het.
Nadat hulle verskeie lede aan dwelmmisbruik en verhoudingsprobleme verloor het, het hy Fleetwood Mac se eksklusiewe groep musikante saamgestel – Stevie Nicks, Lindsey Buckingham, Christine McVie en medestigter John McVie.
Die ooreenkoms met BMG beteken Fleetwood het sy toekomstige verdienste uit die verkope van die groep se musiek verruil vir ʼn voorafbetaling. BMG het nie die betrokke bedrag bekend gemaak nie, maar dit beloop waarskynlik miljoene rande.
Emma Thompson in Netflix se Matilda
Die Oscar-bekroonde aktrise Emma Thompson, bekend vir haar rolle in die Harry Potter-flieks en Nanny McPhee, is eersdaags te sien as die gewraakte Miss Trunchbull in die Netflix-weergawe van Matilda.
Netflix het vandeesweek bevestig dat Thompson amptelik by die rolverdeling van dié Matilda-rolprentweergawe aansluit. Die 11-jarige Alisha Weir sal die rol van die boekwurm Matilda vertolk en die 007-aktrise Lashana Lynch dié van Miss Honey.
Die Roald Dahl-boek is in 1996 vir die eerste keer vir die silwerdoek verwerk met Mara Wilson en Danny DeVito, wat ook die regisseur was van dié nostalgiese lokettreffer. Pam Ferris het die rol van Miss Trunchbull vertolk.
Die klassieke kinderverhaal is ook sowat tien jaar gelede deur Dennis Kelly en Tim Minchin in ʼn West End-vertoning, Matilda the Musical, omskep, wat die Netflix-weergawe geïnspireer het.
Bron: AFP, BBC, E! News