Hoe lyk Hollywood: Lief en leed lui nuwe dekade in

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus. Twee sterftes en ʼn verlowing het 2020 in Hollywood ingelui.

Whitney se dogter se ekskêrel dood

Bobbi Kristina Brown en Nick Gordon woon in 2012 die première-partytjie vir “The Houstons On Our Own” by die Tribeca Grand-hotel in New York by. (Foto: Donald Traill/Invision/AP, File)

Nick Gordon, ekskêrel van Bobbi Kristina Brown, dogter van die ontslape sang-ikoon Whitney Houston, is Woensdag  op die ouderdom van 30 aan ʼn oordosis dwelms dood.

Gordon se broer, Jack, het dié nuus aan People bevestig. Gordon se prokureur, Joe S. Habachy, het ook op die dood van sy jarelange kliënt gereageer.

“Terwyl ek nie oor die spesifieke omstandighede van sy dood kan praat nie, kan ek wel sê dat dit werklik hartverskeurend is om eerstehands te sien hoe dwelms totale verwoesting in ʼn vriendekring gesaai het, almal van hulle geliefd en met groot potensiaal,” het Habachy gesê.

Volgens The Daily Mail het Gordon ʼn paar hartaanvalle gehad op Nuwejaarsdag en is hy na die Altamonte Springs-hospitaal in Florida gehaas, waar hy uiteindelik dood verklaar is.

Bobbi Kristina Brown is in 2015 bewusteloos in ʼn bad in die huis wat sy destyds met Gordon gedeel het gevind. Sy was bykans ses maande lank in ʼn koma voordat sy dood is.

Gordon is in November verlede jaar aanspreeklik gevind vir Brown se onregmatige dood. ʼn Regter het hom beveel om $36 miljoen aan Brown se boedel te betaal, maar Gordon het platsak gesterf.

Reeksskrywer se seun sterf op Oujaarsdag

Jenji Kohan by die finale première van die Netflix-reeks “Orange is the New Black” in New York. (Foto: Charles Sykes/Invision/AP, File)

Jenji Kohan, die skrywer en vervaardiger wat verantwoordelik is vir suksesvolle reekse soos Orange is the New Black en Weeds, se seun is op Oujaarsdag oorlede.

Charlie Noxon (20) was met ʼn skivakansie in Park City, Utah, saam met sy pa, die joernalis Christopher Noxon, en sy twee jonger sibbe toe hy in ʼn ski-ongeluk gesterf het.

“Ons harte is gebroke,” lui ʼn gesamentlike verklaring deur Kohan en Noxon. “Dit blyk die clichés oor oomblikke soos hierdie is waar; dat die lewe in ʼn breukdeel van ʼn sekonde vir altyd verander en dat ons vasgevang is in ʼn web van liefde en verlies.”

Charlie was ʼn student in filosofie, ekonomie en Chinees aan die Universiteit van Columbia.

‘That ‘70s Show’-akteur verloof

Wilmer Valderrama en Amanda Pacheco is verloof. (Foto: Instagram/Wilmer Valderrama)

Trouklokkies sal binnekort lui vir Wilmer Valderrama (39), die akteur bekend vir sy rol as Fez in die komediereeks That ‘70s Show.

Valderrama het op Nuwejaarsdag op een knie gegaan voor sy jarelange vriendin, die model Amanda Pacheco. Die paartjie het dié nuus op sosiale media bevestig met ʼn foto van Valderrama wat op ʼn rots in San Diego, Kalifornië, die jawoord vra.

Valderrama het voorheen met die aktrise Lindsay Lohan en die sangeres Demi Lovato uitgegaan. Hy en Lovato was ses jaar lank ʼn paartjie voordat hulle in 2016 uitmekaar is.

Bronne: People, ENews

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.