Hoe lyk Hollywood: Lizzie McGuire herleef dalk glad nie; ‘Home Alone’-ster terug op kassie

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Lizzie McGuire herleef dalk nie meer

Hilary Duff het dié foto op die eerste dag op die stel van die nuwe ‘Lizzie McGuire’-reeks op Instagram geplaas. (Foto: Instagram)

Die nuwe Lizzie McGuire-reeks, wat deur Disney Plus vervaardig word, is in die gedrang nadat dié televisienetwerk die skepper van die reeks in die pad gesteek het nadat slegs twee episodes afgehandel is.

Volgens Variety wou Terri Minsky, wat ook die voortou sou neem van die nuwe reeks, en Hilary Duff, wat die rol van Lizzie vertolk, die reeks in ʼn meer volwasse rigting stuur. Disney is egter nie hiervoor te vinde nie en wil hê die reeks moet geskik wees vir kinders en gesinne.

Duff wou nie kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie, maar bronne na aan die produksie het gesê die blondekop-aktrise is nie gelukkig met Disney se besluit om vir Minsky af te dank nie.

Volgens dié bronne het Disney ook van die begin af geweet wat beplan word vir die herlewing van die televisiereeks, wat in 2001 vir die eerste keer uitgesaai is.

Die produksie van die reeks het in November verlede jaar begin, maar is vroeg in Januarie eers gestaak aangesien Duff op haar wittebrood na Mosambiek was. Twee dae voordat sy na die stel sou terugkeer, het Variety berig dat Minsky in die pad gesteek is.

Minsky en haar skrywerspan, asook die produksiespan en Duff self, is glo eers van Disney se besluit in kennis gestel nadat Variety die nuus reeds gepubliseer het.

Home Alone-ster terug op die kassie

Dié foto van Macaulay Culkin het in die jongste uitgawe van Esquire-tydskrif verskyn. Culkin pryk op die voorblad. (Foto: Instagram/Macaulay Culkin)

Macaulay Culkin (39), wat as kind bekendheid verwerf het in die Home Alone-flieks, sal eersdaags weer op die kassie te sien wees in die 10de reeks van American Horror Story.

Dit is Culkin se eerste noemenswaardige televisierol. Hy het onlangs in die Hulu-reeks Dollface verskyn en was ook voorheen te sien in Kings.

Die skepper van die American Horror Story-franchise, Ryan Murphy, het bekend gemaak Culkin sal saam met onder andere Kathy Bates, Leslie Grossman, Billie Lourd, Adina Porter, Lily Rabe, Angelica Ross en Finn Wittrock in die nuwe reeks te sien wees. Sarah Paulson en Evan Peters sal ook oudergewoonte deel van die rolverdeling wees.

Die tema vir die nuwe reeks is nog nie bekend gemaak nie.

Kardashian-broer verloor hofstryd

Rob Kardashian, die broer van die bekende Kardashian-susters en seun van Kris Jenner, se aansoek om volle toesig oor sy driejarige dogtertjie, Dream, saam met sy voormalige verloofde, Blac Chyna, is nie toegestaan nie.

Blac Chyna. (Foto: Instagram/Black Chyna)

E! News het berig dié nuus is Donderdag aan The Blast bevestig. Kardashian self het nog nie kommentaar gelewer nie.

Hy het in hofstukke aangevoer dat Dream se gedrag onlangs verander het en dat sy glo kaal dans en seksposisies namaak wat sy glo by haar ma geleer het. Dream gebruik ook glo onvanpaste taal.

Kardashian het versoek dat Chyna, ʼn model en voormalige ontkleedanseres, se tyd saam met hul dogter beperk word tot naweke, met ʼn oppasser teenwoordig, en dat sy dwelm- en alkoholtoetse ondergaan voor elke besoek.

Volgens The Blast het die regter dié aansoek, wat verlede maand ingedien is, van die hand gewys. Black Chyna se prokureur het glo ook Kardashian se beskuldigings dat sy onder meer partytjies hou in Dream se teenwoordigheid en vreemdelinge nooi om saam met haar dronk te word, as “absoluut absurd” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.