Hoe lyk Hollywood: Misdaadskrywer verdrink tuis; stigterslid van ‘Kool and the Gang’ sterf

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Misdaadskrywer verdrink tuis

Shanna Hogan en haar seun, Zander, voor die ongeluk. (Foto: Shanna Hogan/Facebook)

Dit het vandeesweek aan die lig gekom dat die bekroonde misdaadskrywer Shanna Hogan, bekend vir The New York Times-top-verkoper Picture Perfect: The Jodi Arias Story, op 27 Augustus in ʼn swembad by haar huis in Phoenix, Arizona, verdrink het.

Hogan (38) het saam met haar 15-maande oue babaseun, Zander, geswem toe haar voet gegly en sy haar kop gestamp het. Sy was bewusteloos in die water toe haar man, Matt LaRussa, op haar afgekom het. Hulle was 20 jaar lank getroud.

Zander is buite die swembad aangetref met ʼn reddingsbaadjie aan.

LaRussa het mond-tot-mond-asemhaling op Hogan toegepas voordat paramedici haar na die plaaslike hospitaal gehaas het. Sy was in ʼn kritieke toestand en is op 1 September in die hospitaal dood.

Hogan se vriendin, Kathleen Mayer, het die voorval aan People bevestig. “Vrou, ma, vriendin en talentvolle skrywer Shanna Hogan het tragies haar lewe verloor in Augustus nadat sy geval en verdrink het by haar huis. Sy het mediese behandeling in die intensiewesorgeenheid ontvang in ʼn poging om haar lewe te red, maar haar brein het te veel skade opgedoen en ons het hierdie wonderlike vrou verloor.”

Mayer het ʼn GoFundMe-veldtog van stapel gestuur om Hogan se familie met die mediese uitgawes te help.

“Ons sal nooit Shanna se trefkrag in ons lewens en die res van die wêreld vergeet nie,” het Mayer gesê.

Stigterslid van ‘Kool and the Gang’ sterf

Kool and the Gang op die Grammy-toekenningsgeleentheid in 2017. Ronald Bell is tweede van regs. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP, File)

Ronald Bell, een van die stigterslede van die gewilde 70’s- en 80’s-popgroep Kool and the Gang, is in die ouderdom van 68 jaar dood.

Hy het die groep in 1964 saam met sy broer, Robert ‘Kool’ Bell begin. Hulle het een van dié era se mees populêre en invloedryke soul en funk groepe geword, met treffers soos “Celebration”, “Ladies’ Night” en “Get Down on It”.

Hulle musiek is ook in verskeie flieks gebruik, soos Saturday Night Fever – waarvoor hulle in 1978 ʼn Grammy-toekenning ingeoes het, en Pulp Fiction.

Bell is by sy huis in die VSA se Virgin-eilande dood. Volgens ʼn woordvoerder was sy vrou by hom.

Die oorsaak van sy dood is nie bekend gemaak nie.

Alec, Hilaria Baldwin verwelkom vyfde pienkvoet

Alec en Hilaria Baldwin. (Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File)

Die 30 Rock-akteur Alec Baldwin en sy Spaanse vrou, Hilaria, se vyfde pienkvoet is Dinsdag gebore.

Hilaria het die nuus op sosiale media bevestig met ʼn skattige foto van die pasgebore babaseun, wat Eduardo Pau Lucas Baldwin heet.

“Ons het gisteraand ʼn baba gehad. Hy is perfek en ons kan nie gelukkiger wees nie,” het sy gesê.

Alec (62) en Hilaria (36) is ook die ouers van Carmen (7), Rafael (5), Leonardo (3) en Romeo (2). Alec het ook ʼn 24-jarige dogter, die model Ireland Baldwin, uit sy huwelik met sy eks-vrou, Kim Bassinger.

Alec en Hilaria is in 2012 getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Mmmm niks oor die Oscars wat nou ook kwota vereistes ingestel het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.