Hoe lyk Hollywood: ‘Myth Busters’-man deur suster aangekla; McFly gaan weer sing

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Myth Busters-man deur suster aangekla

Adam Savage. (Foto: Facebook)

Adam Savage, mede-aanbieder van die gewilde program Myth Busters, word deur sy suster aangekla van seksuele misbruik toe hulle kinders was.

Miranda Savage Pacchiana (51) voer aan die misdrywe het plaasgevind in die sewentigerjare toe sy tussen sewe en tien jaar oud was en Savage tussen nege en 12 jaar, terwyl hulle in Sleepy Hollow, New York, gewoon het.

Savage (52) het alle aanklagte teen hom in ʼn verklaring ontken. “Terwyl ek hoop my suster kry die hulp wat sy nodig het om vrede te vind, moet hierdie ding einde kry. Vir jare het sy my en ander familielede onverpoos valslik beskuldig by enigiemand wat bereid is om te luister,” het hy gesê.

“Deur verskeie valse gerugte te versprei terwyl sy ʼn finansiële bonanza najaag, het sy ons hele familie aan ʼn marteling onderwerp en haar van die res van ons vervreem. Ek sal hierdie ongegronde en skreiende hofsaak teenstaan.”

Karen Savage, ma van die sibbe, het ook die aantygings ontken. “Dit maak my baie hartseer om te sê dat my dogter aan ernstige geestesprobleme ly en sy verwoes ons hele familie hierdeur. Adam is ʼn goeie man en ek ondersteun hom ten volle,” het sy aan Fox News gesê.

McFly gaan weer sing

McFly. (Foto: Facebook)

Die popgroep McFly het vir die eerste keer sedert 2009 ʼn nuwe platekontrak geteken en sal later vanjaar ʼn album uitbring.

Die groep het sewe jaar laas ʼn enkelsnit uitgereik, nadat hulle ʼn hele album van die baan af gemaak het om ʼn supergroep saam met die popgroep Busted te vorm. McFly het daarna weer in 2017 herenig.

Tom Fletcher, sanger vir die groep, het aan die BBC gesê daar was ʼn sterk moontlikheid dat die groep nie weer sou herenig nie. “Ons het werklik nie geweet hoe ons dit gaan doen nie.”

Die groep het glo terapie oorweeg om die probleme tussen groeplede uit te stryk. “Ons het nooit gedink dit sal gebeur nie, maar dinge het begin vreemd raak tussen ons,” het Harry Judd, tromspeler van die groep, gesê.

Die vierstukgroep het in November verlede jaar weer saam opgetree tydens ʼn uitverkoopte konsert by die O2-konsertarena in Londen. “Dit was die begin van ons nuwe hoofstuk,” het Fletcher bygevoeg.

Shameless-akteur, vrou skei

Steve Howey en Sarah Shahi. (Foto: Facebook)

Die akteur Steve Howey, bekend om sy rol as Kevin Ball in die Amerikaanse weergawe van die reeks Shameless, en sy vrou, Sarah Shahi, gaan skei.

Die egpaar was byna 11 jaar getroud en het ʼn tienjarige seun, William Wolf, en ʼn vyfjarige tweeling, Violet Moon en Knox Blue.

Shahi is ook ʼn aktrise en bekend om haar rolle in The L Word en Person of Interest. People het bevestig dat Shahi reeds op 4 Mei die skeiaansoek ingedien het in Los Angeles.

Howey (42) en Shahi (40) het Maandag ʼn gesamentlike verklaring aan People uitgereik. “Ons is baie dankbaar vir die afgelope tien jaar saam en ons is trots op die kinders wat ons grootgemaak het,” het hulle gesê.

“Soos wat ons hierdie nuwe fase van ons lewe betree, bly ons grootste prioriteit die grootmaak van ons kinders met liefde, respek en vriendskap.”

Die paartjie het mekaar in 2004 op die stel van die reeks Reba ontmoet en is in 2009 in Las Vegas getroud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.